GEORGE NUUS - Skoolkore vanuit die land het na George gestroom vir die dorp se derde jaarlikse nasionale Cantamus-skoolkoorkompetisie, wat onlangs by die George-burgersentrum gehou is.
Vyftien kore van sover as Durban, Pretoria, Kimberley, Upington en die Kaapse Skiereiland, het drie dae lank aan konserte, werksessies en kompetisies deelgeneem om uiteindelik die wenkoor te bepaal.
Hoër Meisieskool La Rochelle is as algehele wenner van die kompetisie aangewys. Hoërskool Stellenbosch was wenners van die gemengde afdeling, terwyl Laerskool Clarendon (Oos-Londen) die afdeling vir laerskole gewen het.
Die kompetisie word deur Suid-Kaap Sporttoere, die Suid-Kaapse musiekakademie en die Suid-Kaap Kinderkoor aangebied om kulturele toerisme in die Tuinroete-streek te bevorder.
Volgende jaar word 22 skoolkore verwag, en beplan die koördineerder van die kompetisie, Jan-Erik Swart, om volgende jaar 'n internasionale weergawe van die kompetisie in Tauranga, Nieu-Seeland, met Nieu-Seelandse kore aan te bied.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'