GEORGE NUUS - Al ooit gewonder hoe dit voel om 'n skoot met 'n kanon af te vuur? Op Dinsdag 4 Julie kry besoekers aan die historiese tolhuis in die Montagupas die geleentheid om 'n skoot af te vuur met 'n kwartponder-kanon.
Frikkie Conradie, 'n senior kanonnier van Kaapstad, bring spesiaal sy kanon, wat 'n replika is van 'n 1730 kanon, na George. Besoekers wat bereid is om R200 op te dok sal self 'n skoot kan afvuur.
Die geld sal teruggeploeg word vir die bevordering van die tolhuis. Die tolhuis is een van George se geskiedkundige geboue en 'n groot toeriste-trekpleister.
As die weer nie Dinsdag saamspeel nie, sal dit Woensdag of Donderdag plaasvind. Mense kan van 10:30 by die tolhuis begin opdaag. Benewens die afvuur van die kanon sal daar onder meer pannekoek en koffie beskikbaar wees teen 'n donasie.
Gerda Stols van die Vriende van die tolhuis het Maandag gesê die nodige toestemming en veiligheidsmaatreëls is in plek. 'n Plofstofdeskundige van Mosselbaai sal ook op die toneel wees.
Sover bekend sal dit die eerste keer in die moderne tyd wees wat 'n kanon weer in George en beslis by die tolhuis afgevuur word.
Conradie het gesê hy gebruik swart kruit sonder 'n projektiel ('n blank). Vir die spesifieke geleentheid sal 40 gram swart kruit per skoot gebruik word. Die plan is dat Stols die eerste skoot afvuur.
Volgens hom klink dit soos 'n motor wat terugplof (backfire).
Op die vraag of dit veilig is het hy geantwoord: "Dit is net so veilig soos om met 'n motor van George na Johannesburg en terug te ry mits al die nodige veiligheidsmaatreëls nagekom word.
Elke kanon word eers getoets voordat daar met hom in die openbaar afgevuur word.
Vir hom is dit 'n stokperdjie. Hy het jare gelede nog verpligte militêre diensplig gedoen. Daarna was hy as 'n vrywilliger by die weermag betrokke. Later het hy by die Kanonvereniging aangesluit.
Vir meer inligting kontak Stols bel by 083 772 8252.
Afvuur van een van die die kanonne by die Durbanville skietbaan
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’