GEORGE NUUS EN VIDEO - As die Vriende van die Tolhuis hul sin kry, gaan tradisionele Afrikaanse sport en gebruike soos jukskei, kennetjie, kleilat en kettieskiet weer herleef en toeganklik wees vir die jonger geslag.
Op die oomblik is die tradisionele sport hoofsaaklik bekend by die ouer garde.
Gerda Stols, voorsitter van die organisasie en dryfkrag agter die heropbou en instandhouding van die geskiedkundige tolhuis in die Montagupas, het tydens 'n geleentheid van die netwerkorganisasie, friendsofgeorge by die tolhuis, aangedui dat daar beoog word om 'n jukskeibaan by die tolhuis te vestig.
Stols het na afloop van die geleentheid meer vertel oor die toekomstige uitbreidingsplanne by die tolhuis. "Ons wil graag die kinders aan heerlike aktiwiteite en speletjies van die ou tye blootstel.
"Ons wil hê besoekers moet iets beleef wat vir hulle aangenaam is. Dis deel van kultuurerfenis."
Kyk 'n video hieronder.
Die jukskei sal met regte jukke gespeel word en die organisasie soek nog na jukke. Die baan sal met 'n sandput toegerus word. Dit sal suiwer vir ontspanning wees en nie mededingend nie.
Daar word gehoop om die baan voor einde November gereed te hê.
Volgens haar is die tolhuis steeds baie gewild en besoeke is gratis.
Rockey Sonnekus, stigterslid van friendsofgeorge, het gesê hy is verstom oor dit wat by die tolhuis reggekry is. "Opvallend is dat die mense van George hul harte so oopgemaak het. Ons omgewing het soveel historiese waarde en kultuur wat verlore sal gaan as dit nie opgekikker word nie."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'