GEORGE NUUS - As jy lus is om op die geskiedenis se voetspore terug te stap, moet jy Saterdag 24 September met 'n verfkwas en 'n emmertjie by die ou tolhuis in die Montagupas opdaag.
Dit is dan Erfenisdag en as deel van vieringe rondom die dag, gaan bakens op die Cradockroete met kalk geverf word.
Die tolhuis is een van George se geskiedkundigste geboue en is reeds in 1845 gebou. Die Cradockroete is reeds in 1812 gebou.
Gerda Stols, voorsitter van die Vriende van die Tolhuis, en organiseerder van die geleentheid, het Maandag gesê dit was die eerste roete oor dié deel van die Outeniquaberge.
Dit het destyds sowat drie dae geneem om per wa met die roete oor die berge te ry. Dit was nie altyd maklik nie en ongelukke het voorgekom. Van die osse het hul pote gebreek. 'n Boer het aan die noordekant gewag om hulle met nuwe osse te vervang.
Sommige plekke op die roete was baie moeilik en ossewaens is soms stuk-stuk uitmekaar gehaal en verder gedra.
Volgens Stols is daar sowat 20 bakens op die roete en van hulle gaan Saterdag met kalk geverf word. Mense wat help sal by die tolhuis van kalk voorsien word.
Dit is egter nie al aktiwiteit wat Saterdag gaan plaasvind nie. Van 10:00 se kant sal van die ander aktiwiteite plaasvind.
Die Donkiekar-boereorkes van Hoekwil gaan optree en tussen agt en tien veteraan-motors sal te sien wees.
Daar sal ook 'n demonstrasie wees oor hoe om botter te maak. Voorts sal lekkernye soos vetkoeke, roosterkoeke en pannekoeke te koop wees.
Mense sal ook deur die tolhuis kan stap waar onder meer 'n groot versameling ou orrels en klaviere besigtig kan word.
Die plan is om die perdewa wat die ou tolhuis onlangs ontvang het amptelik in gebruik te neem. Dit is goedgunstiglik aan die tolhuis geskenk. Die wa het op die perseel van Francois Ferreira Academy naby die George-lughawe gestaan. Dt word omskep in oornaggeriewe by die historiese baken. Dit sal gebruik word deur stappers wat deelneem aan die Klein Karoo Pelgrimstog van Hoop (Camino).
Daar word gehoop dat die kap dan gereed sal wees om op die wa geplaas te word en in gebruik te neem.
Mense word genooi om met kampeerstoele en piekniekkomberse op te daag en heerlik saam te kuier.
Voorbereidings aan die kap vorder goed In die agtergrond is die ou tolhuis.
Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'