GEORGE NUUS - Al ooit gewonder waar jou voorsate en familie vandaan kom?
Inwoners kry op Saterdag 10 September die geleentheid om meer te wete te kom oor hoe om hul familiewortels te ontdek wanneer die Suid-Kaap-tak van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA) hul tiende verjaarsdag vier.
Dit word van 09:30 die oggend by die Groenkloof-aftreeoord, Glenwoodlaan, gehou en verskeie sprekers sal optree.
Onder die sprekers is Isabel Groesbeek wat sal praat oor "Wie, Wat, Waar, Wanneer en Hoe?" Groesbeek is 'n genealogie konsultant by die FAK en stigter van Genealogie en Familie-Erfenisfees.
Sy is sedert 1988 betrokke by genealogiese navorsing - eers by die RGN tot 1988 en sedertdien onafhanklik.
Hendrik Louw sal praat oor die rol van GGSA in familienavorsing. Hy is die huidige president van die GGSA en is al meer as 50 jaar betrokke by genealogie.
Wilkie Barkhuysen sal praat oor "GGSA Suid-Kaap-tak Van 0 tot 10". Barkhuysen was 'n stigterslid van die Suid-Kaap-tak en is reeds jare by genealogie betrokke. Hy het destyds met die stigting vir wyle Abrie de Swardt nadergetrek wat uiteindelik baie betrokke was by die tak.
Kwartus Sieberhagen, die huidige voor-sitter, het by navraag gesê dit is een van die snelgroeiendste stokperdjies in die wêreld. Volgens hom is jongmense ook welkom en hulle sal graag wil sien dat hulle betrokke raak.
Op die oomblik is daar 12 takke in die land waaronder die Wes-Kaap, Suid-Kaap, Oos-Kaap, Natal, Noordwes, Vrystaat, Vaaldriehoek en Pretoria. Daar is ook 'n elektroniese tak.
Volgens Sieberhagen word daar elke kwartaal ledevergaderings gehou en elke maand 'n bestuursvergadering. Navorsing word gedoen en projekte word aangepak.
Die bestuur van die Suid-Kaap-tak van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA). Van links is Jaco Pienaar (ondervoorsitter), Kwartus Sieberhagen (voorsitter), Barbara Sieberhagen (penningmeester) en Selma Crouse (sekretaresse).
Baie van die feite, byvoorbeeld waar mense vandaan kom, is in hul geheue en nie neergeskryf nie. Die GGSA sal mense help om dit behoorlik te boekstaaf voordat dit verlore gaan.
"Daar is 'n Afrika-spreekwoord wat sê, 'Wanneer 'n ou man sterf brand daar 'n biblioteek af.' Al die kennis is vir altyd weg."
Barkhuysen het gesê die tak het van 'n klein begin oor die jare gegroei. Die eerste vergadering in 2012 het sommer by 'n privaat koffieplek plaasgevind. Covid-19 en die gepaardgaande regulasies het 'n impak gehad op aktiwiteite, maar dit het nou weer begin optel.
Hulle sal graag meer mense wil betrek. Inligting wat deur navorsing bekom word, word onder mekaar uitgeruil. Die inligting word nie net deur mense vir hulself gehou nie.
Vir meer inligting kontak Sieberhagen by 083 232 9878 of kwartus@telkomsa.net of Selma Crouse by 083 283 2171 of selmacrouse8@gmail.com.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'