GEORGE NUUS - Die jeugsakeorganisasie, Shift, het groot planne vir Vrydag 16 Junie wanneer dit Jeugdag is.
Die organisasie, 'n inisiatief om jeugbemagtiging te bevorder, gaan kragte saamsnoer saam met WNI (Wilderness Natural Initiative) en Bethesda, 'n kinder- en jeug-sorgsentrum in Rosemoor.
Vrydag se geleentheid vind by Cornerstone Creek Art Gallery in Hoekwil plaas. Dit begin om 09:00 en hou tot 14:00 aan.
Die voorsitter van Shift, Des-lie van Wyk, sê die jeug en almal wat belangstel word genooi. Tydens Vrydag se geleentheid gaan 'n jeugmark gehou word. Goed wat deur skoliere self gemaak is gaan te koop aangebied word. Dis alles deel van planne om entrepreneurskap onder die jeug te bevorder.
Kolwyntjies gaan ook versier word. Ian Visser van Cornerstone sal kunswerke wys en daaroor gesels.
Van Wyk, wat al self 'n interessante lewenspad geloop het en 'n paar uitdagings oorbrug het, sal 'n motiveringspraatjie lewer.
'n Praatjie oor 'n sielkundige perspektief om kinders te bemagtig sal deur Linda Devine van WNI gelewer word.
Van Wyk het benadruk dis 'n gemeenskapsgeleentheid. As daar tydens die geleentheid gesien word van die leerlinge het potensiaal sal hulle moontlik later gehelp word deur byvoorbeeld mentorskappe.
Mense wat meer besonderhede wil hê kan Van Wyk bel by 060 479 7095 of Liezel by 082 334 7251.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’