Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Honderde boodskappe van medelye het die afgelope week op sosiale media ingestroom nadat dit bekend geword het dat Mosselbaaier, Kobus Crous (68) op Woensdag, 6 Oktober in 'n hospitaal in Pretoria oorlede is.
Crous, die eienaar van die Bergsig privaat natuurreservaat asook Mosselbaai-helikopters, sal egter ten beste onthou word vir sy nalatenskap wat altyd van selfopoffering sal getuig.
Hy was bekend vir sy onselfsugtige toewyding tot die gemeenskap en gevolglike reddingsoperasies met sy helikopters.
Crous het Mosselbaaiers en ander in omliggende streke in verskeie noodtoestande bygestaan en lewens gered.
Fotogalery: Kobus Crous se laaste vlug
Geen simptome
Crous is op 28 Junie met die Covid-19-virus gediagnoseer kort voordat hy vir 'n prosedure in die hospitaal moes gaan.
Hy en sy vrou, Lizelle het daarna geïsoleer, maar nie een van die twee het enige simptome van die virus getoon nie.
Nadat hulle isolasie verby was, het Crous met sy daaglikse take aangegaan. Hy het egter skielik, bykans 'n maand nadat hy die eerste keer met die virus gediagnoseer is, 'n koors ontwikkel. Volgens Lizelle, was dit kort nadat hy tegnici per helikopter na sneeubedekte berge op Swellendam moes neem.
Sy toestand het oornag versleg en Lizelle het hom op Maandag, 26 Julie na die Life Bay View privaat hospitaal geneem.
Crous het 'n moedige stryd teen die koronavirus geveg en is op 5 Augustus op 'n ventilator geplaas. Op 3 September is hy per vliegtuig na die Midstream Mediclinic in Pretoria verplaas waar hy deur 'n top longspesialis behandel is.
Lizelle was elke dag aan haar man se sy en het soggens vanaf 10:00 tot 20:00 by hom gebly. "Ek het sy hand elke dag vasgehou en hy het geweet ek was daar."
Lizelle het deurgaans sy vordering op 'n WhatsApp-groep met honderde lede gedeel.
'n Stortvloed medelye
Op Woensdagoggend, 6 Oktober het sy geskryf: "My lief is na ons Hemelse Vader toe om 00:30. Hy't nou geen stryd of pyn om verder teen te veg nie. Hy's nou in die poorte van onse Here. Dankie vir almal se gebede. Ons harte is stukkend, maar weet hy is op 'n baie beter plek nou."
Huldeblyke het die afgelope week ingestroom en meer as 700 mense het reageer op die artikel wat op die Mossel Bay Advertiser se Facebook-bladsy gedeel is.
Michelle Carstens het geskryf: "Dis so 'n groot verlies vir Mosselbaai. Sterkte aan familie, vriende en kollegas." Lizelle het kort na Crous se dood aan die Advertiser gesê: "Ons harte is stukkend. Ons ontvang die mooiste boodskappe en waardeer elke oproep en boodskap. Kobus het soveel mense se lewens aangeraak en soms ook verander, sonder dat hy eens daarvan bewus was."
Crous laat sy vrou Lizelle, sy kinders, Jaco, Mariska, Kobus en Barry asook ses kleinkinders agter. Geen begrafnisreëlings was teen druktyd beskikbaar nie.
Lizelle en Kobus Crous.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'