GEORGE NUUS - Al ooit gewonder wat gaan in die kop van 'n klipmeester aan?
Besoekers aan die ou tolhuis kry die naweek die geleentheid om die bekende Suid-Kaapse klipmeester, Joost Pyck, persoonlik te ontmoet wanneer hy sy nuwe boek, Elfenbein, in Suid-Afrika, bekendstel.
Hy het al voorheen 'n boek geskryf, Wat de Joost? Sprokkels uit Suid-Afrika.
Dis heel gepas dat dit by die tolhuis plaasvind want Pyck was in die verlede al betrokke by verskeie restourasieprojekte by die tolhuis. Hy het onder meer van die klipwerk herstel en ook al 'n miniatuur tolhuis uit klip gekap en dis in 2020 onthul. Die tolhuis, wat meer as 170 jaar oud is, is een van George se mees historiese geboue.
Gerda Stols, voorsitter van die Vriende van die Tolhuis, het Donderdag gesê verskeie aktiwiteite word die naweek beplan.
Môremiddag vind die eerste geleentheid om 18:00 plaas en Saterdag dieselfde tyd. Pyck sal tydens die geleenthede voorlesings uit sy nuwe boek doen. Dit kos R100 per persoon en sluit sjerrie en verversings in.
Van die geld sal tot voordeel van die tolhuis aangewend word.
Saterdag en Sondag is daar van 09:00 tot 14:00 'n ‘Nostalgiemark’ by die tolhuis. Patrick Botto van die Mond- en Voetskilders sal Sondag op die terrein wees en besoekers sal kan sien hoe hy met 'n kwas in sy mond skilder.
Almal is welkom by al die geleenthede.
Joost Pyck (tweede van links) by die klipmodel van die ou tolhuis. Hy het dit uit klip gekap.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'