Update
GEORGE NUUS - Klippe en bakstene wat vermoedelik deur booswigte naby die voetbrug, langs Zone 9 in Thembalethu, na voertuie op die N2-snelweg geslinger word, wek kommer by motoriste.
Ofskoon slegs een saak in die verband by die polisie gemaak is, wil dit volgens Facebook-inskrywings voorkom of die klipgooiery meer as een keer oor die laaste twee weke plaasgevind het.
In die nuutste voorval was Fabian Stoffels van Conville, sy vrou en drie kinders, verlede Saterdagaand omstreeks 20:00 op die N2-snelweg onderweg in die rigting na Pacaltsdorp, toe 'n groot klip hul kar se voorruit getref het.
"Die groot klip het skaars ons voorruit getref, toe nog 'n klomp kleineres op ons neerreën," het Stoffels gesê. Hy het dadelik vermoed mense is besig om klippe vanaf die brug na hulle te gooi.
Dit was egter donker en hy kon nie beweging op die brug sien nie. Op die pad voor hom was daar nog baie glasstukke, bakstene en klippe.
"Dit het my laat dink ander voertuie is ook getref," het hy gesê.
Stoffels wou eers aftrek langs die pad, maar 'n voertuig wat agter hom gery het, het sy ligte vir Stoffels geflikker wat hom twee keer laat dink het. "Die kar het verby ons gery en ek het besluit om die kar te volg. Dit was asof die bestuurder vir my wou sê ek moenie aftrek nie."
Stoffels en die bestuurder van die ander voertuig het tot in Beachweg in Pacaltsdorp gery en afgetrek voor 'n polisievoertuig wat langs die pad gestaan het.
Stoffels se motor het goed deurgeloop onder 'n aanslag van bakstene en klippe.
"Ek het die voorval aangemeld en toe sê die beampte: 'Moenie vir my sê jou voertuig is ook stukkend nie'," het Stoffels gesê. "Ek was nie bereid om weer terug te ry na Thembalethu-polisiestasie om die voorval aan te meld nie, want ek was bang ons word weer met klippe gegooi. Ek het dit by die Pacaltsdorp-polisiestasie aangemeld."
Stoffels het gesê sy kinders was na die voorval hewig ontsteld. "Hulle was duidelik nie lekker nie. Die een se lip het gebewe, die ander ene het die heeltyd gepraat en die derde enetjie se oë het strak vorentoe gekyk."
Kapt. Dumile Gwavu, kommunikasie-beampte van die Thembalethu-polisiestasie, het intussen bevestig dat 'n saak van kwaadwillige skade aan eiendom deur die polisie ondersoek word. Geen ander sake in die verband is gerapporteer nie.
Stoffels se drie kinders was getraumatiseerd na die voorval. INLAS: Die voorruit is erg beskadig.
Lees 'n vorige artikel: Man praat oor klipgooi voorval op N2
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'