GEORGE NUUS - 'n Man wat Maandagaand as passasier van 'n Go George-bus in Nelson Mandela-boulevard na die middedorp gereis het, was byna die jongste slagoffer van 'n insident waartydens 'n klip deur 'n kantruit van 'n bus gegooi is.
Die voorval het tydens een van die laaste Go George-ritte, in die omgewing van Boeta's Tavern plaasgevind.
In 'n Facebook-plasing vertel die passasier dat die bus op 'n roete van Parkdene na die middedorp onderweg was. "As ek en die dame wat oorkant my gesit het een ry vorentoe gesit het kon ons baie ernstig beseer gewees het," het hy geskryf. Niemand is tydens die voorval beseer nie.
Conville-speurders ondersoek 'n saak van kwaadwillige saakbeskadiging, maar inligting rakende die beweerde voorval is maar skraps. Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, sal meer inligting beskikbaar wees soos die ondersoek ontvou. "Geen arrestasies is nog gemaak nie," het hy gesê.
Go George-bestuur het gesê dat klipgooiery na die busse een van die mees riskante vorms van vandalisme is waaraan die busdiens onderwerp word, en die herstelwerk is ook baie duur.
"Boonop word beskadigde busse uit sirkulasie gehaal en ly passasiers daaronder wanneer daar min busse is om spitstyddiens volgens skedule te lewer," lui hul kommentaar.
Volgens Morné Lakay, waarnemende bestuurder van Go George, is passasiers se veiligheid vir die busdiens van primêre belang. "Daarom het ons onmiddellik opgetree en die diens op die bepaalde roete aangepas in lyn met die risiko toe ons kennis kry van die klipgooiery. Ons is jammer vir passasiers wat nie daardie laaste bus kon haal huis toe nie, maar ons moes risiko opweeg teen gerief. Indien hierdie tipe optrede voortduur, sal ons in die toekoms geen keuse hê as om diens na geteisterde areas op te skort nie. Klipgooiery na 'n bus, en boonop een wat passasiers dra, is nie kwajongstreke nie - dit is 'n blatante misdaad en sal so hanteer word wanneer die skuldiges aangekeer word."
Go George doen 'n beroep op die publiek om hulle by te staan in die bekamping van hierdie tipe optrede, deur van die inbelsentrum gebruik te maak.
- George-munisipaliteit het 'n beloning van R2 500 goedgekeur aan persone wat inligting verskaf wat lei tot die suksesvolle skuldigbevinding van vandale wat Go George-eiendom en -infrastruktuur beskadig. Informante moet die Go George-inbelsentrum onmiddellik by 0800 044 044 skakel wanneer hulle vandalistiese bedrywighede sien. Ideaal gesproke moet wetstoepassingsagente die vandale op heterdaad betrap, maar fotobewyse sal ook baie nuttig wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’