GEORGE NUUS - Rosedale Educare het probleme wat net nie ophou nie. Die speelskool met 35 kinders het die afgelope week sonder water, krag en kos gesit.
Volgens Eleen Wildeman, die onderhoof, trek hulle al 'n tydjie lank swaar en kom hulle net nie die mas op nie. Wildeman sê dis ook nie asof die gemeenskap en hul plaaslike raadslid nie weet van hul probleme nie.
"Ons het dit al vantevore by ons vergaderings opgebring, so almal is ten volle bewus van wat aangaan."
Die speelskool het in 2011/12 ontstaan as deel van die vorige burgemeester se burgemeestersprojek.
Debra Sauer, 'n woordvoerder van die George-munisipaliteit, sê daar was 'n behoefte aan 'n kleuterskool toe die area nog nuut was en die gemeenskap het aangedui dat hul 'n dagsorg nodig het.
"Die kleuterskool het elke jaar sedert die opening, ondersteuning van die munisipaliteit ontvang in die vorm van tafels, stoele, matrasse, komberse, plastiekbekers en koppies asook opvoedkundige speelgoed soos al 26 ander munisipale kleuterskole."
Sauer sê daar was egter nie hierdie boekjaar voldoende fondse om die jaarlikse aankope te doen nie.
Maar sê Sauer, "Rosedale Educare vind ook baat by elke spesiale geleentheid wat deur die gemeenskapsontwikkeling-afdeling van die munisipaliteit gehou word."
Sy sê die kleuterskool is tans geregistreer as 'n nie-winsgewende organisasie by die departement van maatskaplike ontwikkeling.
Omdat daar tans nie fondse beskikbaar is nie, kon die kleuterskool nie die week vir die kinders twee maaltye by die skool aanbied nie, en moes die personeel rondhardloop om die krag aan te hou.
"Ons moes 'n R50 leen net om krag te koop."
Hulle het selfs die plaaslike portefeuljeraadslid Edmund Bussack genader, wat blykbaar gesê het dis nie sy probleem nie. Bussack sê aan George Herald dat hy hulle telkemale probeer help het.
"Ek het talle kere met die hoof gekommunikeer en versoek dat hulle 'n bankrekening open. Ek mag nie geld aan die kleuterskool allokeer indien die organisasie nie 'n bankrekening het nie."
Hy sê ook as 50% van die ouers deernisverbruikers is, kan die skool aansoek doen vir kwytskelding, maar tot op hede kom die hoof en komitee nie vorendag met die dokumente nie.
Wildeman sê hulle kry ook nie meer die sopprodukte wat die sopkombuise kry nie.
Hierop sê Sauer dat daar in Maart 2013 'n raadsbesluit geneem is dat daar nie meer sopkombuise by kleuterskole gaan wees nie en kleuterskole ontvang sedertdien nie meer sopprodukte nie.
Met betrekking tot die kleuterskool se munisipale rekening wat agterstallig is, kan daar reëlings getref word vir afbetaling, maar kleuterskole se gemeenskappe en ouers word aangemoedig om verantwoordelikheid te neem en die skool finansieel te ondersteun.
"Indien ouers nie skoolfonds betaal nie, kan ons as munisipaliteit niks daaromtrent doen nie."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'