GEORGE NUUS - Die Diepkloof-kleuterskool het Dinsdag 30 Maart, 'n 'splinternuwe' bussie gekry na herstelwerk daaraan gedoen is. Noleen du Preez, die skoolhoof van die skooltjie buite George, sê hulle was nog altyd geseënd met 'n hand wat help of 'n donasie.
Die voertuig het probleme gegee en moes dringend herstel word. Stefan du Toit, wat die skool se boeke doen, het geweet dit is belangrik dat die skool se bussie herstel word en het sy kontakte in George gevra om te help.
"Die skool loop reeds 'n lang paadjie met Kia. Die voertuie is daar aangekoop, die eerste een reeds in 2006. Een van die twee voertuie se enjins het probleme gegee en dit was onekonomies om te herstel. Ek het Kia genader, die herstelkoste het byna R73 000 beloop."
Du Toit vertel, Kia George het hulle gehelp en goedgunstiglik 'n 50% korting gereël op die herstel van die enjin, waaroor hulle almal baie opgewonde en dankbaar is.
"Die grootste gedeelte van die balans van die herstelwerk word geskenk deur Outeniqualand NG Gemeente, wat 'n baie groot en waardevolle bydra lewer tot die behoeftes van Diepkloof-kleuterskool."
Johan du Preez hier saam met Du Toit en Visagie by die oorhandiging van die sleutel.
Du Preez sê hulle is innig dankbaar aan elkeen wat 'n bydrae lewer, 'n donasie gee, van hul tyd skenk, veral die mense agter die skerms. Sy sê hulle skooltjie het tans 65 leerders wat van plase afkomstig is, so voertuie is belangrik om die kinders by die skool en weer tuis te kry.
Indien jy 'n skenking wil maak kontak die hoof, Noleen du Preez by 072 494 5337.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'