GEORGE NUUS - Kleuters van Klouterwoud-speelskool het vir groot vreugde by Tuiniqua-versorgingsentrum gesorg toe hulle op Lentedag vir die bejaardes gesing en ook blomme oorhandig het.
Daar is ook sjokoladeskenkings vanuit die gemeenskap vir al die inwoners ontvang. Christa van der Merwe, hoof en eienaar van Klouterwoud-speelskool, het gesê hulle wil weer 'n glimlag op bejaardes se gesigte bring. "Ons vier 'n nuwe seisoen."
Ninke Stanley, maatskaplike werker van Tuiniqua, het gesê te midde van Covid-19-protokolle by versorgingsfasiliteite, probeer Tuiniqua en die gemeenskap steeds Lentedag vier. "Dit het baie vir die bejaardes beteken en het groot vreugde gebring."
Na die geleentheid is ook meer besonderhede bekendgemaak oor 'n breiprojek waarby inwoners van Tuiniqua betrokke was. Dit was 'n geleentheid vir inwoners om weer vreugde vir kinders te bring.
Kleuters van Klouterwoud-speelskool sing vir van die bejaardes van Tuiniqua-versorgingsentrum.
FNB-breiprojek
Volgens Stanley het FNB Tuiniqua genader om deel te wees van hul FNB-breiprojek. "Die doel van hierdie projek was om mussies en serpe te brei wat aan minderbevoorregte kinders tussen 3 en 6 jaar geskenk kan word.
Annelie Bennett, dienssentrumkoördineerder en Ninke Stanley, maatskaplike werker van Tuiniqua-versorgingsentrum, by die mussies en serpe wat die bejaardes gebrei het.
"FNB het aan die ywerige breiers van Tuiniqua wol geskenk waar hul vlytig aan die werk gespring het.
"Die projek het inwoners van Tuiniqua ook weer nuwe waarde in die tyd gegee, aangesien hulle minder met die gemeenskap te doen gehad het sedert die begin van Covid."
Daar is onder meer 17 serpe en 46 mussies gebrei. FNB sal dit later aan die kinders uitdeel.
Christa van der Merwe, hoof en eienaar van Klouterwoud-speelskool, vertel waarom hulle die blomme aan die bejaardes oorhandig het. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'