OUDTSHOORN NUUS - Die KKNK se virtuele kunsgalery, ondersteun deur Absa, het Dinsdag 29 Junie vir die tweede jaar geopen.
Dineke van der Walt is die kurator en is verlede jaar met 'n Fiësta bekroon vir 2020 se visuele kunsgalery.
Die tema van vanjaar se visuele kunsgalery is, Voel.
"Ons almal het spesifieke goeie en slegte ervarings wat ons ten diepste raak en ons lewens beïnvloed," sê Van der Walt. "Deur kuns kan ons daaraan uitdrukking gee en betekenis aan emosies gee."
Volgens Van der Walt is daar ses groepuitstallings wat virtueel besigtig kan word: Emotion / Emosie, saamgestel deur Absa met dr. Paul Bayliss as kurator, Feeling Things, saamgestel deur Donavan Mynhardt, Paint. Verf., saamgestel deur Johan Myburg (wenner van die 2020 Hertzogprys vir poësie), If you think about it... saamgestel deur Fadzai Muchemwa, Something Pauses, saamgestel deur Christa Swart en Amplifica: A Medley of Moods in Miniature, deur Van der Walt self saamgestel.
Volgens haar is 83 kunstenaars deel van die KKNK 2021 se virtuele kunsgalery, ondersteun deur Absa, met 245 kunswerke wat uitgestal word. Van die kunstenaars is onder andere, Paul Shiakallis, Anthea Pokroy, Vusi Beauchamp, Ella Cronjé, Lillian Magodi, Erica Lüttich, Sophia van Wyk, Senzo Shabangu, Alexia Vogel en Jayne Crawshay-Hall,
Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK, sê die virtuele kunsgalery is nou oop vir verkope tot 29 Augustus en verkope vind plaas deur die KKNK se splinternuwe e-winkel by kknk.co.za.
"Ons is trots daarop om vir die tweede jaar 'n geleentheid vir kunsliefhebbers te skep om van oor die wêreld en in die gemak van hul eie huis die fees se visuele kunsuitstalling te beleef," sê hy. Theart meen verder dat die galery 'n gebruikersvriendelike ervaring is, waardeur besoekers kan "stap" en ook na stemopnames deur kunstenaars en kurators kan luister. "Uitstallings is vanjaar só saamgestel dat kunswerke uiters bekostigbaar is, met werke wat by R500 begin. Hierdie inisiatief skep 'n belangrike platform vir visuele kunstenaars om hulle werk ten toon te stel en te verkoop en sodoende 'n inkomste te genereer."
Besoek die Virtuele Kunsgalery en doen aankope by www.kknk.co.za
'n Voorbeeld van een van die 245 kunswerke in die KKNK se virtuele kunsgalery.
'Ons bring jou die nuutste Karoo, Tuinroete, Hessequa nuus'