TUINROETE DISTRIK-NUUS - “Die KKNK het nie vanjaar in die tradisionele vorm plaasgevind nie, maar die fees leef voort op innoverende maniere, op verskeie ander platforms.”
So sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK). Die KKNK is weens die Covid-19-pandemie vanjaar vir die eerste keer in 26 jaar nie in Oudtshoorn aangebied nie.
“In moeilike en onsekere tye bied die kunste ontvlugting, dit is ’n stem vir gemeenskappe en dit bring mense byeen om steeds in hul omgewings ’n verskil te maak.
"Dit is juis hier waar die KKNK sedert Maart vanjaar poog om gehore te vermaak en rolspelers te ondersteun”, brei hy uit.
Theart sê met die huidige beperkings was dit nodig om kreatief te wees in hulle aanslag, om aan nuwe maniere te dink om gehalte kuns met ’n tikkie andersheid te bied.
Kortom
“Die KKNK bring nie slegs een keer ’n jaar kunste aan gehore nie. Dit is ons visie om deur die loop van die jaar kuns-geleenthede te skep en ons kon tot dusver vanjaar met verskeie platforms daarin slaag om op hierdie wyse feesgangers in hulle huise te vermaak.”
Verskeie inisiatiewe is op die been gebring of aangepas, om toe te sien dat ’n diverse aanbod steeds regoor Suid-Afrika, en vanjaar ook internasionaal aangebied kan word.
Netwerk24 en die KKNK se eerste kortfilm-projek, Kortom, het vroeg in Augustus die lig gesien en bied oor nege weke, nege kortfilms eksklusief aan Netwerk24-intekenaars.
Norval Wind Octets CPO
Teksmark
“Ons skep vanjaar vir die vyfde jaar ’n geleentheid vir skrywers om nuwe Suid-Afrikaanse verhoogtekste of teksidees by Teksmark voor te lê. Dié projek is in 2018 met ’n spesiale Fleur du Cap-prys vir innovasie in teater vereer en ons sien daarna uit om hier aan alle skrywers die geleentheid te bied om hul idees en tekste vir moontlike verdere ontwikkeling bekend te stel”, sê Theart.
’n Rekordgetal teks-voorstelle is vanjaar vir Teksmark ontvang en die evaluasieproses is tans aan die gang.
Mothership Sessions-musiekreeks
Die Mothership Sessions-musiekreeks is eksklusiewe musiekkonserte wat vir die KKNK in Kaapstad by Mothership Studios opgeneem is en wêreldwyd gestroom word.
“Dit was belangrik om ’n aanlyn produk van hoogstaande gehalte aan te bied en die eindresultaat is ’n hoë definisie kykervaring met uitstaande klank. Die musici kon ook met hierdie konserte broodnodige inkomste genereer”, sê Theart.
Winterfees van klassieke musiek
“Hoewel die 12de Klein Karoo Klassique, Oudtshoorn se winterfees van klassieke musiek, ook nie vanjaar soos beplan kon plaasvind nie, is ons baie opgewonde om twee aanlyn musiekkonsertreekse oor die volgende paar weke aan te bied,” sê Theart.
Vir die eerste konsertreeks span Klassique kragte saam met die Kaapse Filharmoniese Orkes vir drie eksklusiewe konserte en vir ’n vierde konsert saam met die Charl du Plessis Trio, wat in Switserland opgeneem is.
Die tweede konsertreeks bestaan uit vier uitvoerings saam met die Kaapstad Barokfees, ondersteun deur die Rupert Musiekstigting. Hierdie lente-konsertreeks wat spesiaal opgeneem is, is vanaf die einde van Oktober aanlyn beskikbaar. Meer inligting en kaartjies is van middel-September beskikbaar.
Birds of a Feather Lisl Barry Net worth
Virtuele Galery
Nog ’n eerste vir die KKNK, is vanjaar se Virtuele Galery. “Hierdie inisiatief bied ’n belangrike platform vir visuele kunstenaars om hulle werk te verkoop en sodoende ’n inkomste te genereer uit werk geskep vir vanjaar se KKNK”, sê Theart.
Dineke van der Walt, die KKNK se nuwe visuele kunskurator, het vanjaar se program met die tema Plat op die aarde saamgestel. “Feesgangers, kunsliefhebbers en -versamelaars kon vir die eerste keer deur die digitale gange van ons visuele kunsprogram stap en die prag van 11 uitstallings in die gemak van hulle huise sien. Die aanbod het kuns van 45 kunstenaars met meer as 200 werke ingesluit”, sê sy.
Die reaksie op die virtuele galery was oorweldigend en meer as 34 000 besoekers het deur die virtuele galery geloop.
Karoo Stories Maryna Cotton Verenig
ReWOLusie,
ReWOLusie, wat in 2019 met die Blou Fiësta bekroon is, het in 2020 ’n nuwe fokus gehad: waar hierdie dorpsinisiatief vorige jare Oudtshoorn se strate vir die KKNK verfraai het, het Oudtshoorniete saamgewerk om komberse vir behoeftiges te brei en te skenk.
ReWOLusie
Tribuo-fonds
Die KKNK ondersteun ook in hierdie tyd die Tribuo-fonds. Dié fonds verleen broodnodige ondersteuning aan rolspelers in die kunste wat deur die huidige inperkingsregulasies geraak word.
“Ons wil nog nie die aap uit die mou laat nie, maar teater- en filmliefhebbers kan uitsien na aanlyn teaterproduksies wat binnekort gestroom word, asook ’n nuwe Suid-Afrikaanse film wat eksklusief op die KKNK se virtuele platforms aangebied word.
"Verder is ons besig met ’n e-handelprojek wat eksklusiewe produkte uit die Klein Karoo beskikbaar stel. Ons beplan beslis om in 2021 weer op Oudtshoorn fees te vier. Die presiese formaat sal bepaal word deur die regulasies wat in plek is maar ons sien daarna uit om feesgangers in die Klein Karoo terug te verwelkom”, sluit Theart af.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'