GEORGE NUUS - 'n Geliefde inwoner van Pacaltsdorp, Paulen Alaart, bekend vir sy onbaatsugtige werk met kinders en perde, is op die jeugdige ouderdom van 29 oorlede.
Alaart, die voorsitter van die Pacaltsdorp Riding Club, het kort voor sy dood in die hospitaal Dinsdagoggend, 27 Julie, maagprobleme ontwikkel.
Sy dood het talle inwoners in rou gedompel.
'n Boesemvriend en mede-Rastafari van Alaart, Larry Pretorius het aan George Herald gesê sy dood is 'n groot skok en verlies. "Ons was baie close.
"Ons het saam by Shoprite in George gewerk en alles saamgedoen. Nie net ek nie, maar die hele gemeenskap gaan hom mis. Paulen het so baie vir mense gedoen en beteken. Veral vir kinders. Hy het alles wat moontlik is gedoen om kinders van misdaad weg te hou. Sy ander passie en liefde was perde."
Paulen Alaart by sy twee grootste passies, kinders en perde. Foto: Eugene Gunning
Alaart het menige verwaarloosde perd onder sy vlerk geneem en het selfs op SABC TV-nuus in 'n onderhoud gepraat oor hoe hy sy liefde vir perde inspan om kinders van slegte dinge weg te hou.
Alaart het ook 'n vullishoop omskep in 'n gemeenskapsgroentetuin om hongeres te voer en het daarvan gedroom om sy medemens selfs meer te help as hy eendag sou boer en perde op sy plaas kon teel. Rastafari Hein Scheepers het gesê George het 'n steunpilaar verloor.
"Hy was baie betrokke by die geloofsgebaseerde Rastafari-beweging in George. Hy was nog op pad na sy toekoms. Net God sal weet hoekom hy so 'n wonderlike, voorbeeldige mens so vroeg gevat het."
Alaart word oorleef deur sy ma, sy lewensmaat en drie kinders.
Paulen Alaart het baie vir die hele gemeenskap gedoen.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'