Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Roy Brown (38) van Pietermaritzburg het verlede Vrydag in George aangestap gekom. Hierdie man het al 2 628 km sedert 1 Augustus afgelê om mense bewus te maak van die noodsaaklike rol wat Famsa (Families Suid-Afrika) in gemeenskappe speel.
Brown het verlede naweek in George deurgebring en Maandagoggend vroeg na Oudtshoorn vertrek. Sy plan is om tot op Worcester te stap, en dan weer na Pietermaritzburg terug te keer.
Hy word deur sy vrou en babaseuntjie vergesel, wat saam met sy nasionale mediese borg, ER24, per ambulans agter die ambisieuse stapper aanry.
Volgens Brown het die landswye resessie ook vir Famsa geraak. "Daar was sprake dat een van die takke in Pietermaritzburg moontlik hul deure sou sluit. Ek het besluit dit kan nie gebeur nie, ek wou help. Daarom wil ek mense bewus maak van die ongelooflike werk wat hierdie mense doen.
"Ek is self met 'n kroniese siekte gediagnoseer en ontvang berading by Famsa," het Brown gesê. Brown, wat die Comrades-marathon al 12 keer voltooi het, stap sowat 234 km in 24 uur, teen 'n gemiddelde spoed van 9 km/h.
Kyk 'n video hieronder:
Volgens sy berekeninge behoort hy rondom die 20ste September terug te wees op Pietermaritzburg. 'n Fliek wat gebaseer is op die lewe van 'n man wat ondanks motorneuronsiekte 'n boek geskryf het, het Brown geïnspireer om die staptog aan te durf.
"As iemand met die siekte 'n boek kon skryf, kan ek met my siekte deur Suid-Afrika stap," het hy gesê.
'n Soentjie van pa: Roy Brown word op sy staptog vergesel deur sy 8 maande oue babaseuntjie Roy junior en sy vrou, Jessica, wat saam met 'n ambulans agterna ry.Lees 'n vorige artikel: Kilometers op pad vir FAMSA
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'