GEORGE NUUS - Verteenwoordigers van politieke partye het vanoggend (Saterdag) vroeg opgestaan sodat hulle kiesers by stempunte kon inwag wat nog wil registreer vir die algemene verkiesing.
Ofskoon die verkiesingsdatum nog nie bekend gemaak is nie, word algemeen verwag dat die verkiesing erens tussen Mei en Julie sal plaasvind. Volgens ingeligtes is die kanse baie goed dat in Mei sal plaasvind.
Hierdie naweek is een van die laaste kanse wat kiesers, wat nog nie geregistreer is nie, kan registreer om te kan stem.
Hulle kan dit doen by ‘n stemlokaal van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK).
Die OVK het meer as 20000 stemlokale landswyd. Dit het vanoggend om 08:00 geopen en sluit weer om 17:00. Môre open dit ook om 08:00 en sluit om 17:00.
By van die stemlokale wat die George Herald vanoggend besoek het, het voornemende kiesers wat nog nie geregistreer is, drupsgewys opgedaag. Onder hulle was jong kiesers wat nog nooit voorheen gestem het nie.
By van die stemlokale was daar aanvanklik meer verteenwoordigers van politieke partye as kiesers.
Verteenwoordigers van politieke partye se boodskap aan kiesers was baie duidelik: Kom registreer want dit is julle toekoms wat geraak word.
Vandag en môre se geleentheid is uit en uit ‘n OVK aangeleentheid. Politieke partye benut egter wel die geleentheid om solank stemme te werf.
By die George stadsaal het adv. Gert van Niekerk van die VF Plus en DA-lede hand geskud. Onder die DA-lede was Iona Krtizinger. Sy het haar hond, Abigail saamgebring. “As Abigail kon stem, het sy beslis DA gestem,” het Kritzinger gespot.
By die Conville-gemeenskapsaal het ‘n gemoedelike atmosfeer geheers. Musiek het gespeel en ondersteuners het koelte in die skaduwee gesoek teen die warm son.
Verteenwoordigers van ICOSA, die EF, GOOD, die ANC, die DA, die ACDP en die PBI was teenwoordig. Aanvanklik wou die PBI-lede nie saam met die lede van ander partye poseer vir ‘n foto nie. Hulle het egter later ingestem en die verskillende lede het selfs met mekaar gespot.
Verteenwoordigers van politieke partye het Saterdag by stemlokale bymekaar gekom om die registrasie proses dop te hou. Hier staan adv. Gert van Niekerk van die VP Plus by Iona Kritzinger van die DA en haar hond, Abigai by die George stadsaal. Dit lyk of Van Niekerk by Kritzinger wil weet vir wie gaan Abigail "stem". Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'