GEORGE NUUS - Môre, 14 Februarie, is D-dag vir kiesers in wyk 8. Dan gaan hulle stembus toe om te bepaal wie hulle in die George-stadsraad gaan verteenwoordig.
Die munisipale tussenverkiesing vind plaas na die bedanking van Bazil Petrus. Hy was 'n DA-lid en het by die PA aangesluit. Hy gaan nie die party se vaandel in die tussenverkiesing dra nie.
Altesame vier kandidate gaan dit uitspook om die vakante setel. Hulle is Levinia Wildeman van die ANC, Anthony Willemse van die DA, Shumenta Malan van die EFF en Samuel Vorster van die PA. Die uitslag sal nie die magsbalans in die stadsraad raak nie.
Daar is 3 868 geregistreerde kiesers wat kan stem. Stempunte open om 07:00 en sluit om 21:00.
Daar is twee stempunte:
- Parkdene Congregational Church
- Parkdene-gemeenskapsaal
Politieke partye beskou die tussenverkiesing as belangrik want dit word gesien as ‘n proeflopie vir die nasionale en provinsiale verkiesing wat later vanjaar plaasvind.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’