Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Ontwikkelingsaansoek vir erf 157 in Missionweg, Pacaltsdorp, het inwoners en lede van verskeie Khoisan-stamme in die Suid-Kaap op die agtervoete omdat hulle glo dat van hulle voorsate moontlik daar begrawe lê.
'n Groep van die ontevredenes het aandag op die kwessie gevestig toe hulle Saterdag 'n protesaksie by die grond gehou het.
Blanche Benjamin, 'n plaaslike aktivis, het aan George Herald-joernalis Kristy Kolberg gesê die erf (wat 5 629m² beslaan) oorkant die Congregational Kerk het nie net sentimentele waarde vir baie Pacaltsdorpers nie, maar ook 'n ryk geskiedenis.
Die grond lê langs die ou begraafplaas wat ds. Pacalt met 'n sooimuur laat omhein het en waar die sendelinge en hul families asook dopelinge van die Congregational Kerk eens begrawe is.
Volgens Chantel Edwards-Klose, kommunikasiehoof van die George-munisipaliteit, is die eiendom oorspronklik in 1879 van die destydse Britse regering aan Wenzon Maander oorgedra toe die sendinginstansie in beheer was van die gebied.
"Dit was dus lank voor enige ontwikkelingsraad of munisipaliteit bestaan het. Die ontwikkeling is noord van die grafte geleë en deel van die ontwikkelingsvoorstel is 'n oop ruimte aan die suidelike kant langs die begraafplaas."
'n Aansoek om hersonering en onderverdeling vir 'n residensiële ontwikkeling is in Julie 2018 ontvang. Dit is geadverteer en kennisgewings is in Augustus 2018 aan omliggende bure en ander belanghebbende partye gestuur.
Verskeie besware is ontvang waarna die applikant 'n omvattende erfenis-impakstudie laat doen het. Stefan de Kock van Perception Planning is as erfenisspesialis aangestel.
"'n Volledige assessering van die geskiedenis van die eiendom asook waar die tradisionele begraafplekke geleë was, is gedoen. Gronddeurdringende sonar/radar is gebruik om te bepaal of daar enige grafte of oorblyfsels op die eiendom is. Daar is vasgestel dat die grond wat as begraafplaas toegestaan is, suid van die eiendom geleë is.
"Aan die suidelike end van die eiendom is wel iets gevind wat 'n grafsteen of oorblyfsel kan wees van die oorloop van die begraafplaas. Hierdie area sal nie ontwikkel word nie en as 'n oop ruimte of tuin behou word. Geen grafte of iets buite die normale is op die res van die eiendom gevind nie," het Edwards-Klose gesê.
Erfenis Wes-Kaap het die impakstudie geassesseer in terme van die Nasionale Erfeniswet en goedgekeur. Die aansoek is nou weer vir kommentaar geadverteer. Die sluitingsdatum vir kommentaar is 19 Oktober.
Volgens Edwards-Klose sal die applikant aan die einde van die openbare- deelnameproses geleentheid kry om op besware te reageer, wat direkte kommunikasie met die betrokke partye kan insluit. Daarna sal die munisipaliteit se stadsbeplanners 'n aanbeveling aan die besluitnemende owerheid maak. Enigiemand kan teen die uiteindelike besluit appelleer.
Kyk 'n video hieronder:
Ds Pacalt se sooimuur
Volgens Jurgen Loff van Liesel Scholtz Prokureurs wat namens die beswaarmakers optree, lê die ou begraafplaas ongeveer 100m van die Congregational Kerk midde-in 'n deel van Pacaltsdorp met belangrike historiese waarde.
"Ds Pacalt het 'n sooimuur rondom die ou begraafplaas gebou. Almal wat in die kerk gedoop is, is hier begrawe terwyl ongekerstendes buite die muur ter ruste gelê is. Volgens die kerk se noukeurige dooprekord, is daar van 1814 tot 1886 meer as 2 000 mense gedoop van wie die meeste hier begrawe moes gewees het.
"Hulle sou gesterf het voor die ontwikkeling van die westelike begraafplaas in 1909. Dit beteken dat daar heelwat meer as 2 000 grafte hier moet lê. Daar is dus 'n baie sterk moontlikheid dat die grafte oorgeloop het op erf 157."
Loff het gesê sendelinge en hul families kon steeds in die ou begraafplaas begrawe word nadat dit in 1909 amptelik gesluit is. Voor dit, reeds in 1889, was die plaaslike owerheid bekommerd omdat daar nie 'n openbare begraafplaas was nie en die kerk het beperkte spasie in hulle ou begraafplaas gehad. In Februarie 1908 is 'n aansoek ingedien vir 'n nuwe begraafplaas vir die kerk.
Volgens hierdie ou diagram van die landmeter-generaal wat dateer uit 1876 is die ou begraafplaas nie deel van erf 157 nie, maar die Khoisan-stamme glo daar was moontlik 'n "oorloop" van grafte na erf 157 weens 'n tekort aan spasie op 'n stadium in die geskiedenis.
'Bloedgrond'
Stamhoof van die Gourikwa Khoisanstam van Groot-Brakrivier, Barry Jacobs, het Saterdag tydens die protesaksie ook sy misnoeë uitgespreek. "Hierdie is bloedgrond, dit is heilige grond. Geen ontwikkeling sal hier plaasvind sonder die Khoi nie. Ons verwerp enige ontwikkeling op hierdie stuk grond. Dit is erfenisgrond."
Bernard Hannes, 'n inwoner, vra in 'n brief aan die George Herald dat die voorgenome ontwikkeling nie oorweeg word voordat konsultasie met die plaaslike Stamraad plaasgevind het en die versekering verkry is dat die ontwikkeling nie indruis teen die Deklarasie van die Regte van Inheemse Mense nie.
Al die betrokke dokumentasie rakende die aansoek is beskikbaar op die George-munisipaliteit se webwerf.
Die groep ontevredenes het hul menings op plakkate gelug.
Die groep ontevredenes het hul menings op plakkate gelug.
Die groep ongelukkige inwoners lede van die Gourikwa Khoisan-stam wat Saterdag bymekaar gekom het. Foto's: Kristy Kolberg
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'