GEORGE NUUS - Na onlangse drama met 'n privaat gesprek tussen sekere politici oor Khoi-gewoontes en beweerde drankgebruik wat die rondes gedoen het, vra die leier van die Pacaltsdorp Kulturele-raad, Stanley Lamini, dat die volk herenig.
Die gesprek-voerders het besin of hulle die Kom van daan-geselligheid van die Khoi, Griekwa, Boesman en Namas op Erfenisdag gaan bywoon.
Stemboodskappe van PBI-raadslid Virgill Gericke, Marius Tarentaal (PBI) en ANC-verteenwoordigers Castro Leholo en Mervin Olivier, is wyd oor sosiale media versprei. Die stemgrepe verwys na die groepering se gebruik van velletjies, kieries en drank.
Lamini het homself vroeër van die kwessie gedistansieer en gesê dat dit 'n politieke aangeleentheid is waarby hyself en ander Khoi-leiers nie betrokke gaan raak nie. Hy het intussen bevestig dat die streekraad binnekort vergader en dat 'n uitnodiging aan die gesprekvoerders gerig sal word om oor die saak te praat.
Die gesprekvoerders was almal eens dat die praatjies in ligte luim geskied het en dat dit nie hul bedoeling was om die Khoi-kultuur, waarvan hulle hulself deel ag, te verneder nie. Beide Gericke en Leholo is oortuig dat die bohaai oor die stemboodskappe polities gedrewe is.
Gericke het bevestig dat hy steeds op 'n uitnodiging wag. "So 'n gesprek is broodnodig om uitklaring te gee oor die kwessie. Ons weier om ingetrek te word by interne Khoi-politiek." Leholo het gesê hy verwelkom enige betrokkenheid wat sal help om die saak op te los.
'Respekteer mekaar'
Intussen wil die stof maar net nie gaan lê nie en Lamini vra namens die Khoisan-raad dat hierdie gebeurtenis nie verwarring en verdeeldheid onder hul mense sal bring nie.
"Ek vra dat ons mense herenig en weet dat hierdie 'n geestelike geveg is, en nie 'n persoonlike geveg nie. Ons glo dat God hierdie aangeleentheid vir ons gaan uitsorteer," het hy gesê.
"God gaan sy belofte nakom dat ons weer verenig. God se volk gaan weer opstaan. Wat was sal weer wees. Ons vra die volk om nie verder verdeeld te wees oor die aangeleentheid nie, maar dat ons ons les geleer het en liewers verenig as 'n volk. God het die mens gemaak, en Khoi staan vir 'kaal mens'.
"God het die mens gemaak, en dit is wie ons is. Ons moet net nader aan mekaar lewe en mekaar meer respekteer. Ons moet mekaar se gevoelens en kultuur respekteer, want dit maak ons net 'n beter mens."
Lamini bedank almal wat die Kom van daan-fees op Erfenisdag ondersteun het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'