GEORGE NUUS EN VIDEO - Die koning van die Gona-Hesse !Khwe Royal Kingdom kuier tans in die distrik. Bestuurslede van die Outeniqua Khoi Royal House het hul koning, Cornelius Botha, verlede Woensdag by George-lughawe verwelkom.
Botha sal vir die volgende paar weke verskeie gemeenskappe besoek waartydens hy hom wil beywer met gesprekke rondom kulturele kwessies, die rol van tradisionele huise en die Wet op Tradisionele en Khoi-San-leierskap wat op 1 April in werking getree het.
Luidens dié wet word daar vir die eerste keer formeel erkenning aan Khoi-San-leierskap gegee.
Van links is Nicoline Louw, Raymond Louw (leier), Cornelius Botha (koning), William Sukers (senior leier) en Jeemon Adams (hoofman). Foto: Michelle Pienaar
Kyk 'n video hieronder:
Houteniqua Stad
Botha is ook van plan om 'n aansoek in te dien vir die verandering van George se naam, na Houteniqua Stad. George Herald se voorbladartikel op 1 April, "George renamed Goringhaikona", het as inspirasie gedien, het Botha gesê.
Hy het gesê alhoewel hy deeglik bewus is dat dit net bedoel is as 'n grappie, voel hy die tyd is nou reg vir so 'n verandering. Dit is belangrik dat individue se name uit die benaming van 'n dorp moet bly, en 'n mens eerder op die area moet fokus, het hy gesê.
Volgens Botha verwys Houteniqua na die Khoi-woord "heuningdraer", en is dit uniek aan hierdie omgewing. Hy wil die aansoek indien terwyl hy hier op besoek is, het Botha gesê.
Die Suid-Kaap is Botha se geboortedistrik. Hy het grootgeword in Dysselsdorp, maar sy familie woon oor die hele land, het hy gesê. "My doel is om my mense bewus te maak van wie hulle is en om saam te staan," het hy gesê.
Alle titels en verwysings na stamname is aan George Herald verskaf.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'