Update
GEORGE NUUS - Dis nie net die koronavirus wat chaos veroorsaak nie. In die bosse en tuine van inwoners in die streek gaan die stompkopkewer en sy simbiotiese swam voort met sy verwoestingswerk. Dit kom al van Mei 2018 en sluit plekke in soos Mosselbaai, George en Knysna.
Dit blyk dat die inperking 'n impak het, want weke van behandeling is weggeneem. Die dilemma word vererger want gifstowwe kan nie nou gekoop word nie en takke wat afgesaag word, kan nie nou weggery word nie.
Kommer oor die naderende winter
Dr. Jaap Steenkamp, bekende bosboukundige, sê dit is goed om die besmette bome waar moontlik, voor die winter te behandel. Volgens Steenkamp kan daar gedurende die winter net oppervlakte bespuitings gedoen word as gevolg van die lae sapvloei.
Dit is as gevolg van die dormansie periode van die bome. Omdat die sistemiese middels nou uitgewerk is, is daar herinfeksie van bome wat vroeg in die 2019-groeiseisoen behandel is.
"Mense het gewoond geraak aan die kewer en rapportering is waarskynlik af, maar besmetting is steeds hoog en waarskynlik op hoër vlakke."
Steenkamp is nie bewus van nuwe besmettings nie. "Ons het 'n klompie Engelse eike verloor, hoewel 'n paar ook baie goed reageer op die behandeling. Spesiesamestelling gaan mettertyd verander, maar die besmettingskurwe sal afplat en 'n dinamika sal bereik word - waarskynlik oor die langer termyn."
So lyk dit as die stompkopkewer en sy simbiotiese swam 'n boom besmet het.
Registrasie van middels
Baie min middels is geregistreer en dit veroorsaak dat baie mense sê hulle kan niks doen nie. Volgens hom is dit nie waar nie en is daar talle huishoudings wat hul bome laat behandel.
"Ons is tans ook (privaat) met 'n vervaardiger van landbouchemikalieë besig met kliniese toetse op bome wat behandel is met nuwe insek- en swamdoders. Die toetse sal hopelik oor ses weke bekend wees."
Sy advies is dat mense nou moet uitkyk vir enige infeksie. Wanneer die inperking hopelik teen die einde van die maand eindig, moet oorweeg word om dit so gou moontlik daarna te behandel.
Owerhede is in 'n netelige posisie as gevolg van die status van registrasie van middels. "Ek dink die bereidwilligheid is daar, maar niks gaan gebeur voor daar nie meer geregistreerde middels op die mark is nie."
Vorige artikels: