Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - As alles volgens plan verloop sal die geskiedkundige horlosie in die kerktoring by die NG Moedergemeente oor 'n paar maande weer behoorlik funksioneer en sal hy saam met die kerkklokke die tyd aankondig.
Die afgelope tyd het sommige inwoners al begin wonder waarom die tyd op die horlosie nie altyd reg is nie. Die horlosie staan sedert Maart. Van die inwoners gebruik dit graag elke dag om hul dagtake te beplan.
Die kerk en kerktoring wat die horlosie huisves, is een van die bekendste bakens in George en is selfs hoog vanaf die Outeniquaberge sigbaar.
Die horlosie is reeds in 1906 amptelik in gebruik geneem en daar is onlangs met die proses begin om dit behoorlik te diens. Dit is die eerste keer dat die horlosie behoorlik gediens word wat beteken dat hy al meer as 100 jaar funksioneer sonder enige groot probleme.
Chris Hattingh, koster van die gemeente, het aan die George Herald gesê dis 'n omvattende proses en verg fyn beplanning. Die projek word deur die kerk hanteer.
Die huidige horlosie het 'n lang geskiedenis. Toe die kerk in 1842 ingewy is, was daar nog nie 'n horlosie nie. In 1905 het die kerktoring ineengestort. Met die herbouing is die horlosie toe geïnstalleer saam met nuwe klokke. Dit kom oorspronklik van Engeland.
Die kerkgebou van die NG Moedergemeente. Foto: Eugene Gunning
Net soos met 'n motor moet dit gereeld gediens word. Die horlosie is omtrent elke drie maande geolie en geghries. Dit het nooit 'n groot diens gehad nie omdat dit nie nodig was nie. "Dis nie ongewoon nie en sulke horlosies kan baie maklik tot 200 jaar loop." So drie maande gelede is dit weer geolie en geghries. Toe is gevind dat dit behoorlik gediens moet word.
Kyk 'n video hieronder:
Om dit te kan regkry, is daar bepaalde uitdagings. Een is om die wysers af te haal. Om die wysers te kan afhaal word gepoog om dele van die glas te verwyder sodat daarby uitgekom kan word.
Dit blyk dat die wysers aan die noorde en weste kante die meeste geraak is, want dit is waar die reën vandaan kom.
Volgens Hattingh behoort die werk binne twee tot drie maande afgehandel te wees. "Dan behoort hy weer reg te wees vir die volgende 100 jaar."
Die horlosie van die NG Moedergemeente aan die binnekant hoog op in die kerktoring.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'