GEORGE NUUS - Ds. Francois Mulder, leraar van NG kerk, Blanco-gemeente, skryf in Rapport van 19 Julie oor die onderwerp van dominees wat hul geloof verloor en dan boeke skryf oor hoe en waarom dit gebeur het.
Sy stuk is 'n repliek op Tim du Plessis se vroeëre rubriek in dieselfde publikasie waarin hy bevraagteken waarom juis Afrikaanse dominees die afgelope tyd die behoefte het om hulle reis na ongeloof te boekstaaf vir die hele wêreld om te lees, en dan is daar mense wat dit koop en lees.
Mulder se kommentaar lei na die onderwerp van die Nederlandse samelewing wat reeds die afgelope 50 jaar sekulariseer.
Volgens 'n amptelike opname, is daar meer ateïste en agnostici as mense wat deel vorm van religieuse groepe (ander gelowe soos Islam ingesluit).
Mulder verwys dan na 'n "stadige maar konstante" uittog uit Afrikaanse kerke sedert die aanbreek van die nuwe Suid-Afrika, wat ook op sekularisering dui.
Oor lidmaatgetalle in George het hy by navraag gesê daar is sewe NG gemeentes, maar dat die kerk veel wyer en groter as net een denominasie is.
"Ek ervaar dat kerke in George op 'n dinamiese wyse 'n verskil in die gemeenskap maak. Wat kerkleiers betref is daar in die George-omgewing niemand van wie ek weet wat van sy of haar geloof afgesien het oor die afgelope 16 jaar wat ek hier is nie."
Oor die huidige polemiek in die media, het hy aan George Herald gesê dit is belangrik om te probeer verstaan waarom mense hul geloof verloor. Van die redes wat hy noem is onder andere lewenstrauma wat kan lei tot ontnugtering as iemand se verwagting van God was om hom/haar suksesvol (volgens wêreldse standaarde) en pynloos deur die lewe te neem.
"Verder dink sommige mense hulle moet hul brein buite die kerkgebou los. Ons moet weet en kan verduidelik waarom ons glo. Talle van die intellektuele reuse deur die eeue was gelowiges. Apologete wat geloof intellektueel verdedig, wys byvoorbeeld na die natuurwette en die ongelooflike heelal wat 'n Ontwerper veronderstel.
"Daar is filosowe en wetenskaplikes wat Christene geword het weens logiese redenasie en juis op grond van die wetenskap. In die natuurwetenskap en kosmos sien hulle die vingerafdrukke van God. Dink maar aan die onlangse asemrowende foto's vanaf die James Webb-ruimteteleskoop."
Mulder vertel dan van die impak van die lewe, dood en opstanding van Jesus Christus.
"Selfs ongelowige historici erken dat iets aardskuddends 2 000 jaar gelede moes gebeur het wat 'n klomp Joodse vissermanne, vroue en diverse groepe van die destydse samelewing getransformeer het in vreeslose getuies van die opgestane Jesus te midde van harde teenkanting van die Romeinse Ryk - dink kruisigings - en die godsdienstige elite - Skrifgeleerdes, Fariseërs en Sadduseërs.
"Hierdie getuies was bereid om hul lewe op te offer vir die waarheid van Jesus se opstanding. Binne 350 jaar het hul liefde en passie en geloof die destydse wêreld radikaal getransformeer."
Hy sê terug in die huidige konteks moet gelowiges "in nederigheid hul roeping uitleef om diegene wat twyfel en swaarkry lief te hê, te ondersteun en te probeer teruglei na Jesus. Daar moet met empatie geluister word na mense wat hulle geloof verloor het."
Na aanleiding van die Bybelse beginsel van genade as 'n onverdiende geskenk, sluit Mulder af met die woorde: "Ons moet onthou dat geloof 'n geskenk is en dat ons as Christene in die woorde van Paulus niks het om op te roem nie. Ons word opgeroep om alle mense, of hulle glo of nie, te behandel as ons medemens, geskep na die beeld van God."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'