GEORGE NUUS - Met 'n klein gebaar is groot dank uitgespreek teenoor die verpleeg- en gesondheidspersoneel van die Conville-kliniek toe lede van die Sewendedag-Adventiste geskenkpakkies aan hulle oorhandig het.
Dit het verlede Donderdag, 25 Maart, plaasgevind, byna 'n jaar nadat die inperking inwerking getree het.
Die geskenkpakkies, wat geestelike leesstof en skryfbehoeftes ingesluit het, het vir groot opgewondenheid onder die personeel gesorg. Dit is uitgedeel in die teenwoordigheid van pasiënte.
Die geleentheid is ondermeer bygewoon deur pastoor Patrick Stander, gesondheidsbedieningsdirekteur van die Sewendedag-Adventiste, Wes-Kaap.
John Ranna, persoonlike bedieningsleier van die kerk se Rosemoor-gemeente, het gesê dis 'n inisiatief van die vrouebediening van die gemeente.
Die doel is om dankie te sê vir die hulp van die gesondheidspersoneel gedurende die Covid-19-pandemie.
Pastoor Grant Lottering van die Sewendedag-Adventiste praat met pasiënte en verpleeg- en gesondheidspersoneel van die Conville-kliniek. Foto: Eugene Gunning
Volgens hom is die gemeenskap onder druk as gevolg van die pandemie en die gesondheidspersoneel het elke dag hul lewens in gevaar gestel. Daar is mense wat gesterf het as gevolg van Covid-19. Daar is mense teenwoordig wat self Covid-19 gehad het.
Die kerk het besluit om namens alle kerke, alle gemeenskappe en die breër gemeenskap van George dankie te sê vir die mense wat hul tyd opgeoffer het.
Pastoor Grant Lottering het gesê plekke was gesluit sedert die inperking, maar plekke soos die kliniek het oopgebly.
Sedert 26 Maart 2020 het van die personeel nog nooit tyd gehad om te rus nie. Sy boodskap aan personeel was dat as hulle moeg en uitgeput is, is die enigste plek waar mens ware rus kan kry, by Jesus. As daar enigiemand is wat verstaan hoe hulle voel is dit Jesus.
John Ranna, (links), Seline Abrahams, Alice Burts en pastoor Patrick Stander van die Sewendedag Adventiste by die Conville-kliniek. Foto: Eugene Gunning,
Hy het personeel gevra dat wanneer hulle van diens afgaan, hulle bietjie tyd sal neem om af te skakel.
Alice Burts, leier van die vrouebediening, het gesê hulle bid vir die personeel. Sy het hulle aangemoedig om nie moed op te gee nie en voort te gaan om vir mense te sorg.
Zolani Kali, bedryfsbestuurder van die kliniek, het gesê hulle is verheug dat wat die personeel doen en deurgemaak het raakgesien word.
Dit was moeilik want van die personeel het self siek geword. Hy het die kerk bedank vir die geskenkies en bygevoeg dat die personeel net hul werk gedoen het.
Van die geskenkpakkies wat oorhandig is.
Van die geskenkpakkies wat oorhandig is. Foto's: Eugene Gunning
With small gifts, members of the Seventh Day Adventist Church gave a big thanks to the personnel at the Conville-clinic. It took place on Thursday 25th March nearly a year after the lockdown started. Zolani Kali, operational manager of the clinic, thanked the church for the gifts.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'