GEORGE NUUS - 'n Jong Blanco-inwoner, Kenneth Lombaard (24), word die afgelope ruk gereeld gesien waar hy onkruid op 'n munisipale erf langs die brug by dié buurt se ingang uitskoffel.
'n Groep Blanconaars het etlike jare gelede 'n inisiatief begin om die area te verfraai, maar dit het in onlangse jare weer oorgroei geraak. Lombaard het 'n ruk gelede besluit om op sy eentjie in te spring en die plek weer netjies te maak.
"Dis iets goed wat ek doen en ek wil my gemeenskap inspireer om ook oral om hulle mooi te maak. Ek dink ek maak my ouers trots op 'n manier," het hy verlede week tydens 'n geselsie met George Herald vertel.
Hy het 'n voorliefde vir die grond en het voorheen sy geld verdien deur in tuine te werk. Sy enigste toerusting nou is 'n geleende hark waarmee hy al drie groot hope onkruid en tuinvullis uitgehaal het.
'n Munisipale trok kom dit verwyder.
Die skoffelry het eintlik begin toe dinge in sy lewe lelik skeefgeloop het. Twee jaar gelede was hy die slagoffer van 'n aanranding wat hom by die dood laat omdraai het.
Hy is met 'n panga aangeval en het onder meer skedelbreuk opgedoen. 'n Operasie moes in die Groote Schuur-hospitaal gedoen word.
Lombaard glo sy familie se gebede het hom hierdeur gedra en hom op 'n nuwe lewenspaadjie gesit met nuwe hoop in sy hart. Terwyl hy ná die operasie uit die slaapnewels teruggekeer het na die werklikheid, het hy die Here langs sy bed sien staan met sy een hand na hom toe uitgestrek, vertel hy.
"Die Vader het Hom oor my ontferm en my weer 'n kans op die lewe gegee. In dit wat ek doen, probeer ek wys die Here is goed."
Die aanval was uit weerwraak vir die moord op 'n ander jongman in Blanco waarby Lombaard sê hy nie betrokke was nie, maar sy aanvallers het anders geglo. Toe hy terugkeer van die Kaap af was hy versigtig om weer sy verskyning in sy eie buurt te maak. Hy het eers tussen sy ma in Pacaltsdorp en sy pa in Albertinia gebly.
"Maar ek is 'n Blanconaar. Dis waar ek gebore is en grootgeword het, so ek het uiteindelik besluit dis waar ek hoort." Hy is nie bang nie, sê hy. "Ek weet die Vader is met my."
Kenneth Lombaard (24) glo dat sy skoffelry met 'n geleende hark by die ingang van Blanco 'n geleentheid oor sy pad kan bring wat hom sal lei na 'n beter lewe. Foto: Alida de Beer
Eenkant op 'n boomstomp lê 'n boek oor berading vir mense wat deur trauma is. Hy het dit by die tiep opgetel. "Dis nie toevallig dat ek daai boek gekry het nie. Ek het hom nodig. Dit het my al baie gehelp," gesels hy.
Hy het in die verlede op Fancourt se gholfbane onderhoudwerk aan skoonvelde gedoen, in privaat tuine gewerk en was ook vullisman by die munisipaliteit. Die feit dat hy werkloos is, was met sy terugkeer in Blanco voorop in sy gedagtes.
"Ek het nie geweet wátter kant toe nie." Dit was tóé dat die gedagte helder by hom opgekom het om die oorgroeide stuk grond te takel. Hy glo dis die begin van iets groter wat hom sal lei na 'n plek waar hy nie elke dag met leë hande by sy ouma sal aankom nie. Hy wil vir haar en vir sy meisie en kind, van wie hy vervreemd is, kan voorsien.
Lombaard is ook 'n kletsrymer. "Ek glo die Vader het my ook 'n visie gegee vir my musiek." Hy skryf sy eie liedjies en was destyds deel van die Bozas, 'n amateurmusiekgroep van Blanco.
"Ek skryf oor die sleg en die goed, mense se leed, die jeug se toekoms, misdaad en goed soos die ekonomie en Covid. Ek is besig met vyf nuwe liedjies. Ek het hoër aspirasies vir my musiek, maar soek net 'n kans om dit vir mense te wys."
Hy lees ook graag koerante en luister radio.
Deur sy gesels heen skemer 'n groot begeerte vir 'n beter lewe en om raakgesien te word. En veral om nie sy twee oumas se vrese te bewaarheid dat sy lewe in 'n puinhoop sal eindig nie.
"Volgens die visie wat die Here vir my gegee het, is daar 'n toekoms vir my. Hy maak nie leë beloftes nie," sê hy.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’