Gallery
GEORGE NUUS - Tuiniqua-versorgingsentrum het 'n nuwe "inwoner" en sy is net twee jaar oud. Ontmoet Mitchie,'n rondloperkat, wat nou 'n nuwe tuiste gekry het en vir groot vreugde onder die bejaardes sorg.
Mitchie se eie lewenspad het self interessante draaie geloop voordat sy by Tuiniqua beland het. Sentrumhoof, Alani Voigt, het vertel dat inwoners in die verlede nie toegelaat is om troeteldiere aan te hou nie. By Tuiniqua was daar in die verlede heelwat rondloperkatte en van die inwoners het na hulle omgesien.
Dit was opvallend hoeveel dit vir die inwoners beteken het.
Die hulp van Cat Garden Route is ingeroep. Die organisasie kyk na die welstand van katte. Daar is besluit om te kyk of die organisasie nie kan help om die regte kat te vind as deel van dierebystandterapie (animal-assisted therapy) nie.
Volgens Voigt het inwoners van blok 20 'n groot behoefte gehad aan die versorging van 'n troeteldier. Daar moet in gedagte gehou word dat inwoners sedert 17 Maart ingeperk was. Een van die inwoners in die blok, Nerine Haggard, is juis baie erg oor katte.
Mitchie is heel tuis by Tuiniqua-versorgingsentrum. Foto: Eugene Gunning
Mitchie
Coriza Vermeulen van Cat Garden Route het gesê dit is baie belangrik om die regte kat te vind vir so 'n situasie. Sy het geweet van 'n kat wat dalk sal inpas. Die kat het aanvanklik in 'n informele nedersetting gewoon.
Vermeulen het 18 maande gelede gehelp dat die kat gesteriliseer word. Tydens die inperkingstyd het Vermeulen gaan kyk hoe dit met haar gaan. Die vorige eienaar het intussen getrek en die nuwe eienaar wou nie die kat hou nie. Die kat is toe na die DBV geneem. Daar is sy versorg en later vir aanneming beskikbaar gestel.
Sy het Voigt laat weet sy het die regte kat en Donderdag, 13 Augustus, is die kat, wat nou Mitchie genoem word, na Tuiniqua geneem.
Volgens Hayley Hook, skakelbeampte van Tuiniqua, was die inwoners baie opgewonde oor die koms van die nuwe inwoner. Haggard sien nou om na die kat.
Fotogalery: Tuiniqua kry 'n nuwe inwoner
Volgens Voigt is dit wonderlik om te sien watter verskil die kat reeds aan inwoners se lewens maak. Dit bewys net weer die belangrikheid van diereterapie.
"Die inwoners het op die oomblik nie direkte kontak met familie nie. Vir van hulle is so 'n troeteldier die rede hoekom hulle soggens opstaan en dit gee sin aan hulle bestaan."
Haggard het vertel sy is baie bly oor die katjie. "Dis vir my 'n nuwe maatjie. Sy gaan baie vir my en die ander tannies beteken."
Hayley Hook, skakelbeampte van Tuiniqua bring Mitchie na haar nuwe tuiste terwyl John Obbes, nutsman, toekyk.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'