Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Karwagte in George wou môre hul saak na die munisipaliteit neem, maar die optog na die stadsaal is blykbaar op die laaste minuut afgestel.
Talle van die selfaangestelde karwagte voel dat hulle inkomste bedreig word deur die sekerheidsfirma, Street Eyes.
Hulle voer aan Street Eyes wil hulle weg hê sodat hulle eie mense daar kan werk.
Willem Saayman en sy vrou Irene, wat by die Mediclinic George se parkeerarea staan, sê hulle wil 'n optog hou om hul saak duidelik te maak sodat mense kan verstaan dat hulle nie skelms is nie, maar ook net 'n bestaan wil maak.
Saayman het vroeër die week gesê hulle hoop om so 50 tot 60 karwagte bymekaar te maak om deel te neem aan die optog.
Pieter Claassen wat al 12 jaar by Shoprite staan, is saam in die ding. Claassen sê Street Eyes se wagte kom met knopkieries en pikstele. "Jy kan nie met sulke goed deur die karre beweeg nie. En jy sal mense en hulle kinders skrik maak," sê hy.
Vat slegte wagte weg
Ook Vernon Bartman wat al sewe maande by Nedbank in Yorkstraat staan ondersteun die optog.
Bartman sê Barry Botha, die plaaslike bestuurder van Street Eyes, moenie in George kom moeilikheid maak omdat sy dinge in die Kaap of Johannesburg nie gewerk het nie.
Die karwagte sê hulle wil met die burgemeester praat en vra om hulle te wettig en die elemente weg te vat wat karwagte 'n slegte naam gee.
Hulle is dit eens dat daar van die wagte is wat die ander 'n slegte naam gee deur by mense se karre in te breek of opdringerig te wees.
In verlede week se George Herald op bl 7 in die berig 'Georgians on edge about car guards', sê die munisipaliteit dat karwagte nie onwettig is nie, solank hulle hul weerhou van teistering.
Claassen sê hy is nie opdringerig nie. "As iemand sê hulle het nie geld nie, wag jy vir die volgende persoon en wag tot jy iets gegee word. Jy skel en vloek nie vir 'n fooi nie." Hy sê hy stel homself voor en hy is daar. "Ek loop en soek nie heeltyd vir die volgende geleentheid nie."
Kyk 'n video hieronder.
Karwagte moet registreer
Volgens Botha is dit absoluut onwaar dat Street Eyes se mense met knopkieries werk. "Hulle het almal sekerheidsbatons wat standaard is." Botha sê karwagte sal binnekort in terme van wetgewing by die Private Security Industry Regulatory Authority (Psira) geregistreer moet wees anders sal hulle in hegtenis geneem word.
Hy sê dit is wat hy nog heeltyd aan plaaslike sakelui, die munisipaliteit en karwagte wil duidelik maak. Hy wil die karwagte formaliseer om sodoende veiligheidskwessies in die middedorp aan te spreek. 'n Onlangse aanlyn-opname deur George Herald het oorweldigende steun vir die formalisering van die karwagbedryf ontlok.
Chantel Edwards-Klose, die kommunikasiebestuurder van George-munisipaliteit, het gesê volgens haar kennis gaan die optog nie meer voort nie. Sy sê die groep het in konsultasie met Richard von Willigh, wetstoepassingsbestuurder, besluit om volgende week bymekaar te kom om oor die saak te praat.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'