GEORGE NUUS - Met die gewilde skrywer Chris Karsten nou in George woonagtig, was Georgiete bevoorreg om hom verlede week by twee geleenthede aan te hoor oor sy nuutste spanningsverhaal, Anderman se vrou.
Die boek is Dinsdagaand, 12 November, by Wordsworth Books in die Garden Route Mall bekendgestel. Riana Scheepers, self baie bekend in die boekewêreld, het met Karsten gesels.
Op Saterdagoggend, 16 November, was Karsten by die George-biblioteek waar die bekroonde joernalis Susan Purén hom die kuns van boeke skryf afgevra het. 'n Ontspanne Karsten het oor sy skryfproses uitgebrei en die belangstellende gehoor het nie op hulle laat wag om vrae te stel nie. Karsten is veral bekend vir sy grillige Abel-trilogie.
Sy belangstelling in misdaad het ontstaan toe hy jare gelede ses boeke oor ware Suid-Afrikaanse misdadigers geskryf het. Die psige van misdadigers is sedertdien 'n sterk onderwerp in sy fiksie.
Joernalis Susan Purén (links) het Saterdag met Chris Karsten oor sy nuutste boek gesels. Foto: Amanda du Plessis
Anderman se vrou is 'n kannieneersit-boek met 'n skurk wat nie skroom om mense te martel en te laat vermoor nie - skynbaar as deel van 'n navorsingsprojek vir die apartheidsregering. Die hoofkarakter, Wim Kellerman, wat aanvanklik in Seisoen van Sonde (2009) sy verskyning gemaak het, is steeds op die spoor van dié man om te probeer afsluiting gee vir die naasbestaandes van die slagoffers.
Lees in volgende week se George Herald meer oor wat Chris Karsten motiveer om spanningsromans te skryf en hoe hy die skryfproses aanpak.
Eerskomende Saterdag word 'n gratis praatjie deur die digter Archie Swanson by die biblioteek gehou met die titel, Hearing: seeing in poetry. Belangstellendes is welkom.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'