GEORGE NUUS - Die toestand van die Hansmoes-kraalpad buite Pacaltsdorp het só versleg tydens die onlangse reën dat 'n groep inwoners besluit het om hulle tot 'n petisieproses te wend.
Die pad lei van Pacaltsdorp na die see by Gwaiingriviermond en bedien ook die Le Grand-landgoed en 'n groot aantal inwoners in die omgewing.
'n Geleentheid word op Dinsdag 4 Julie om 18:00 in die Pacaltsdorp-gemeenskapsaal gehou waar lede van die publiek die petisie kan teken. Daar sal ook sprekers wees, onder wie die voorsitter van die Pacaltsdorp-gemeenskapspolisiëringsforum, Charly Daman.
Volgens Jan Oosthuizen, een van die inisieerders van die petisie, dra die pad tussen 400 en 500 voertuie per dag. "Noudat dit so gereën het, is die pad feitlik onbegaanbaar. Dis 'n nagmerrie vir ons en tans die grootste bron van kommer wat veiligheid in ons gemeenskap betref."
Inwoners daar meen dat die George-munisipaliteit verantwoor-delikheid moet neem vir die teer van die pad.
George Herald het verlede jaar ook oor die kwessie berig en toe het die munisipaliteit aangedui dat die pad tans nie 'n prioriteit op sy paaieprogram is nie weens 'n beperkte begroting.
Die teer van die pad was 'n voorwaarde vir die goedkeuring van die oorspronklike Le Grand-ontwikkeling jare gelede, so die onus was op die ontwikkelaar.
Die planne het toe 'n gholfbaan ingesluit. Die ontwikkelaar is egter gelikwideer en die ontwikkeling is nie voltooi nie. Daarna het Le Grand enkele kere van eienaar verwissel.
Inwoners kla al jare oor die onderhoud op die Hansmoeskraalpad. Na die baie reën onlangs het die pad se toestand nog meer versleg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’