Meer as 7 000 mense het die fees in dikwels ongure weer die afgelope naweek bygewoon. Positiewe terugvoering is op verskeie media ontvang.
Die feesorganiseerders gee toe dat die verskuiwing na 11 jaar vanaf Laerskool Outeniqua na Outeniquapark heelwat logistieke- en koste uitdagings ingehou het en die fees se hoof van logistiek, Attie Bedeker, het sy hande vol gehad. "Die hoe-veelheid tente wat gehuur moes word, het amper verdubbel."
Die feesdirekteur, Benita Milton, het 'n terugblik geneem na die afgelope naweek se verrigtinge en dit so opgesom: "Ons moes vanjaar konsentreer op die volhoubaarheid van die fees en ook ons ondersteuners gewoond maak aan die nuwe terrein." Volgens Milton gaan daar volgende week reeds besin word oor die uitwerking van die drankwet op die fees en sal daadwerklike beplanning gedoen word.
Nuwe datum
Die moontlikheid word ondersoek om die datum van die fees te skuif na 'n meer geskikte tyd van die jaar wanneer daar byvoorbeeld meer bokmelkkaas beskikbaar is. Die fees se hoof van bemarking, Jacques Theunissen, het die George-munisipaliteit geloof vir hulle visie om betrokke te wees by die fees. "Die Vodacom George Kaasfees en feeste in die algemeen sorg vir 'n baie groot ekonomiese inspuiting vir plaaslike gemeenskappe. Buiten al die Kaasfees se verhurings, maak besoekers en uitstallers van plaaslike instansies en dienste gebruik. Daar is ook van plaaslike kunstenaars gebruik gemaak en ek glo dat 'n orkes soos Flashback van so 'n hoë gehalte is dat hul al sinoniem is met die fees."
Gala-aand
Die gala-aand, waar daar ongeveer 1200 feesgangers onthaal is, het gesorg vir top vermaak met kunstenaars soos Barry Hilton, Flashback en Barnyard Produksies. Die Kaasfees sal soos gebruiklik die afgelope 12 jaar, 'n groot gedeelte van die opbrengste aan verskeie liefdadigheids organisasies skenk. Met meer as 86 uitstal-lers, "paring sessions" deur kenners in die bedryf, kosdemonstrasies deur uitgelese sjefs, Antoinette Pienaar met Karookruie, 'n unieke Kidzone, kunstenaars soos Joe Niemand en Kobus Muller, en soveel meer, het die organiseerders daarin geslaag om die Vodacom George Kaasfees te laat voortleef.
Sien fotogalery.
.jpg)
Organiseerder, Benita Milton saam met oom Johannes en Antoinette Pienaar, die aanbieders van 'kaas en kruie'.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'