GEORGE-NUUS - Hierdie naweek sal inwoners van George en omgewing al ‘n voorsmakie kry van die topgehalte sport- en musiekgeleenthede wat vanjaar tydens die agste Vodashop George Kaasfees aangebied gaan word.
Die Care Concert met Riana Nel en Wian Vos vind eerskomende Sondag in die Kuiertent plaas. Kaartjies is beskikbaar by Laerskool Outeniqua.
Die ‘4 Brothers’ Aartappelskuur in Geelhoutboom het sinoniem geword met die Kaasfees se 21km-, 10km- en 5km-pretstap wat eerskomende Saterdag plaasvind en deur Top Gear en Safari geborg word. Desiré Fouché, koördineerder van die geleentheid, nooi almal uit om lekker saam te kuier ná die wedren of die 5km-uitstappie. "Kom geniet ‘n lekker vars plaasontbyt en doen sommer jou inkopies by die plaasstalletjies en die vleismark wat elke jaar aangebied word."
Alle skole en besighede word genooi om vir die 5km-pretstap in te skryf.
Die GR8 Tennistoernooi word vir die eerste keer vanaf Donderdag 10 Junie tot Saterdag 12 Junie op die tennisbane van die George Klub, York High School, Hoërskool Outeniqua en Laerskool Outeniqua gespeel. Die toernooi word deur GR8, ‘n bekende tennisskool hier in George, geborg en aangebied. Onder 10- tot onder 18-seuns en meisies neem deel. Die koste is R200 per speler en dit sluit ‘n gratis Kid Zone-kaartjie in.
Heerlike verversings en toebroodjies sal by die bane verkoop word, sê Gerda Taljaard, koördineerder van die toernooi. Inskrywingsvorms is beskikbaar by GR8 of skakel Gerda by 076 522 8454.
Bergfietsrit
Vroeg volgende Saterdagoggend, 12 Junie, spring die bergfietsentoesiaste weg by die Tuinroete Botaniese Tuine in die Honda X-stream Bergfietswedren. Die wedren word beslis op ‘n unieke roete wat deur die fynbos- en woud-area van die Outeniquas loop. Die Hillbillies MTB Klub help weer met die reëlings en van die inskrywings kan al Vrydag by die Kaasfees vanaf 15:00 gedoen word. Vir meer inligting, kontak Pan van Tonder by 082 373 5352 of Marie Roelofse by 084 326 1793.
Die sportgeleenthede gaan Saterdag voort met die SCT Gholftoernooi by Kingswood. Die kompetisie is ‘n betterball stableford en die koste is R1 600 per 4-bal wat ‘n gholfkarretjie en verversings insluit. Uitstekende pryse word vanjaar uitgedeel.
Belangstellendes kan Patricia by 044 873 2292 kontak om ‘n putjie te borg of vir besprekings.
Alle inskrywingsvorms is beskikbaar by www.georgecheesefestival.co.za of skakel die info-lyn: 071 434 4787.