GEORGE NUUS - Na 35 jaar as onderwyseres, kan juffrou Lokkie Fourie uiteindelik hoof van 'n skool van haar bucketlist afhaal. "Ses jaar gelede toe ek gesê het ek wil eendag in die hoof se stoel sit, het hulle gedink die vrou is voorbarig, en kyk nou." Fourie het op 11 April haar aanstellingsbrief gekry, na sy vanaf 1 Januarie waargeneem het.
Sy sê sy het reeds 'n plan van aksie om 'n paar goedjies by George Voorbereidingskool te verander. Sy glo verandering begin by die grondslagfase en dis ook waar haar fokus op die oomblik is.
Fourie is die skool se eerste vrouehoof, 'n ma van een seun, en haar man is 'n oudpolisieman wat betrokke was by die honde-eenheid. Sy vertel sy kry baie ondersteuning van hom en span hom nou in om haar te help met van die veranderings by die skool. "Een van die dinge is 'n 'veilige area' waar die kinders kan sit en hul broodjies onder die toesig van 'n onderwyser kan eet. Dis vir kinders wat effe angstig is of dalk emosioneel is en nie gesteur wil wees nie."
Sy het ook 'n klas waar taalverryking aangebied word, en haar vier assistent-onderwysers help met lees, klanke en luister oefeninge. "Ons het besef die kinders se ouditiewe persepsie is swak, en het weer van ons kassette en plate gaan uithaal waarna geluister kan word." Sy voel daar moet minder gefokus word op selfone en tablette.
Haar hart lê steeds by klasgee, so sy gaan probeer om ten minste twee keer 'n week steeds lesse aan te bied. Dit is soos 'n natuurlik opkikker vir haar en kan sy nie help as om goed te voel as sy haar kennis gedeel het nie.
Juffrou Lokkie Fourie is nou hoof van Voorbereidingskool George.
Die vrou het nog baie wat sy wil doen by die skool voor sy oor vier jaar aftree, en haar leierspan Henriette Smith, Linda Jordaan en Danica Muller help om dit moontlik te maak.
Daar wag goeie ente se stap en ver lande se reis voor, maar tot dan bars George Voorbereidingskool uit sy nate van trots oor hul nuwe hoof.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'