Video
GEORGE NUUS & VIDEO - Groot opgewondenheid het vanoggend (13 Oktober) by Laerskool George-Suid geheers toe een van die onderwysers Suzette van der Westhuizen, ’n tandem-valskermsprong uitgevoer het.
Dit was deel van die skool en die George Vryburgers se Veerlose vlerke-projek.
Geld is ingesamel om kos te koop vir mense in nood. Die George Vryburgers sal die fondse deur Die kos vir kinders-projek bestuur en skole ondersteun met ‘n daaglikse kospakkie vir kinders. Laerskool George-Suid sal deur sy omgee-projek nood kan verlig aan kinders en ouers van die skool en gemeenskap.
Mense kon ‘n lootjie teen R10 elk koop vir ‘n kans om R10 000 los te slaan.
Van der Westhuizen het op ‘n blok geland. Met die hulp van ’n landmeter en ouditeure kon die wenner bepaal word. Die wenner sal telefonies en skriftelik in kennis gestel word.
Van der Westhuizen het op ‘n hoogte van 10 000 voet ‘n tandemsprong uitgevoer en kort na 11:00 veilig op die skoolterrein geland. Sy het nie geweet haar ma, Martie van der Westhuizen is ook teenwoordig. Sy was baie verras om haar te sien.
Kort na haar sprong het sy leerlinge van haar gr. 1-klas gaan groet. Hulle was duidelik baie opgewonde oor die juffrou wat so baie moed gehad het om die sprong uit te voer.
Sy het aan George Herald gesê sy was ongelooflik bang, maar die mense wat haar met die sprong gehelp het, was baie professioneel. Sy sal dit weer doen.
Sas du Plessis, hoof van die skool, het die gemeenskap, die George Vryburgers en die skool bedank vir elkeen se deelname.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'