GEORGE NUUS - 'n Jongman (18) wat volgens inwoners van New Dawnpark ook 'n gewoontemisdadiger is, het die slagoffer van 'n boendoehof geword ná hy glo by 'n huis in dié woongebied ingebreek het.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, is die Pacaltsdorp-polisie Maandagoggend, 12 April, omstreeks 09:00 na 'n huis in Kalanchoestraat ontbied nadat hulle 'n klag van huisbraak ontvang het.
"Tydens 'n onderhoud met die klaer het sy bevestig dat daar by haar woning ingebreek is en onder meer juwele en selfone gevat is. Lede van die gemeenskap het glo die verdagte vasgetrek en die gesteelde items in sy besit gevind, maar hulle wou nie 'n saak maak nie," sê Pojie.
Volgens 'n bron na aan George Herald, wat verkies om anoniem te bly, het lede van die gemeenskap later weer die jongman aangekeer, vasgebind en ernstig aangerand.
Een van die gemeenskapsleiers Theresa Fortuin, is tydens die voorval gekontak en het tot die seun se redding gekom.
Hy is losgemaak en die nooddienste ontbied waarna hy na die George-hospitaal geneem is.
Voorsitter van Pacaltsdorp-gemeenskaps-polisiëringsforum (GPF), Isaac Felix, het die voorval ten sterkste veroordeel. "Daar is geen manier dat enigiemand toegelaat gaan word om geregtigheid op sy eie manier toe te pas nie. Ons het 'n regstelsel in plek wat geskoei is op regverdigheid. Ons kan nie toelaat dat lede van die publiek reg in eie hande neem oor beweerde voorvalle nie.
"Elkeen moet die geleentheid kry om sy kant van 'n saak te stel. Ons lewe in 'n gemeenskap waarin geregtigheid aan die einde van die dag moet seëvier. Die GPF is totaal gekant teen boendoehof-voorvalle," sê Felix.
Enigiemand met inligting rondom die voorval word gevra om die Pacaltsdorp-speurtak by 044 803 9100 kontak of Crime Stop by 08600 10111.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'