GEORGE NUUS - 'n Jongman, Bongisani Betya (19) wat Vrydagaand, 7 Oktober, in New Dawnpark op aanklag van moord in hegtenis geneem is, het Maandag vlugtig in die George-landdroshof verskyn.
Dit volg ná Keagan October (22) om 18:00 in Voëlnesvaringslot glo tydens 'n bakleiery met die verdagte, dood is.
Die bakleiery spruit na bewering uit 'n liefdesdriehoek tussen die verdagte, sy vriendin en die oorledene.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is October met 'n kopwond op die toneel aangetref. Hy is glo met 'n Okapi-mes aan die agterkant van sy kop gesteek.
Hy is na die hospitaal geneem, maar het later aan sy wonde beswyk.
Die verdagte is kort ná die voorval in hegtenis geneem en bly in aanhouding.
Hy sal op Dinsdag 18 Oktober vir sy formele borgtogaansoek in die hof verskyn.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'