GEORGE NUUS - Die Conville-buurtwag het hulle kommer uitgespreek oor jong bendes soos die K-Way-bende wat uit ander gebiede na Conville kom om te roof en mense aan te rand.
Volgens die buurtwag kom die gewapende jongmans, waaronder skoliere, nie net te voet in die woonbuurt in nie, maar ook met 'n spesifieke taxi wat hulle aflaai. Die buurtwag vra dat inwoners op die uitkyk moet wees vir taxi's wat nie regtig in hul area behoort te ry nie. "Ons vra ook ouers om hulle kinders te monitor en te kyk watter tyd hulle saans inkom. Skoolkinders staan laat saans op winkelstoepe en kroeë en kuier. Dis waar hulle begin dwelms gebruik en by verkeerde aktiwiteite betrokke raak.
"Ons inwoners is in 'n gemaksone. Hulle besef nie wat aangaan nie. Dis baie gevaarlik as 'n mens kyk na die tipe wapens wat ons die afgelope twee weke tydens patrollies afgeneem het," sê die buurtwag.
"Mense moet waaksaam wees, spesifiek wanneer honde snags blaf. Kyk ten minste uit om te sien of alles nog veilig is en gooi 'n ogie oor die straat voor jou huis. Gee alle inligting deur op die WhatsApp-groepe in Conville wat beskikbaar is."
Hulle vra dat inwoners van die gebied betrokke raak en hand aan hand saamwerk met die polisie en buurtwag en buurtwagvergaderings bywoon sodat hulle ingelig kan wees.
Van die wapens wat buurtwaglede van Conville tydens die afgelope twee weke se patrollies by mense afgeneem het.
Die buurtwag het 'n beroep gedoen op besighede om tweerigtingradio's te borg wat hulle sal help om beter te kommunikeer tydens patrollies. Vir navrae en om betrokke te raak by die buurtwag, bel 061 977 6098.
n In Pacaltsdorp is inwoners ook sedert verlede week in rep en roer oor die sogenaamde K-Way-bende wat in dié woonbuurt bedrywig is. 'n Handjievol bekommerde inwoners het Maandagaand 'n vergadering gehou waar verskeie kwessies soos swak beligting, gevaarpunte, voorvalle van misdaad en die totstandkoming van buurtwagte bespreek is. 'n WhatsApp-groep is ook gestig waar inwoners inligting kan deurgee en waarskuwings kan deel.
Inwoners was dit eens dat hulle nie meer langer kan stilsit en sien hoe misdaad floreer en woonbuurte oorneem nie.
'n Medianavraag oor die voorvalle en modus operandi van die sogenaamde K-Way-bende is verlede week aan die polisie gestuur, maar geen terugvoer is teen druktyd ontvang nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'