Hubri en Helene-Mari Bruyn het dit reggekry om eiehandig ‘n hele huis te verander en verbeter vir net onder R7 000. Hulle het ‘n skamele R3 250 spandeer op die kombuis en eetkamerarea wat spesifiek vir die kompetisie ingeskryf is.
Die Bruyns het einde November verlede jaar gehoor dat hulle die prysgeld van R25 000 vir die kompetisie gewen het. Daar is breedvoerig oor hul projek geskryf in Tuis se Januarie-uitgawe, wat gister op die rakke verskyn het. Volgens Hubri het hulle piepklein begroting en nougesette hergebruik van herwinbare materiaal, tesame met hulle jeugdigheid (beide is maar 22 jaar oud) gesorg vir ‘n wenresep.
"Alles behalwe die kombuiskaste se deure is van herwinbare materiaal gemaak," verduidelik Hubri.
Hulle het ‘n plankvloer van planke gebou wat nie tradisioneel vir vloere gebruik word nie, en wat andersins verbrand sou word. ‘n Muur wat die huis verdeel en die eetkamer afrond kom oorspronklik uit die slaapkamer. Lap wat gebruik is vir dekoratiewe kussings op die banke, ‘n lampskerm, stoelkussings en afronding in die kombuiskassies is alles afkomstig van die tafeldoeke wat vir die Bruyns se troue gebruik is.
Hulle het self die banke en koffietafel in die sitkamer gemaak.
"Dit is eintlik so eenvoudig en maklik om iets te maak of te restoureer. Ek dink ons sal heel ongemaklik voel om in ‘n huis te trek waar daar niks is om te verbeter nie," sê Hubri.
Hierdie is die Bruyns se eerste volledige huisprojek, alhoewel Hubri met sy konstruksie/restourasie-besigheid, Home Revivals al verskeie kleiner projekte behartig het. Sedertdien het die werk ingestroom en is die Bruyns geseënd met ‘n uiters suksesvolle seisoen agter die rug.
Die paartjie, wat twee jaar gelede die knoop deurgehaak het en sedert hul hoër-skooldae in Hoërskool Outeniqua bevriend is, trek eersdaags na Stellenbosch waar hulle die besigheid wil laat groei.
Nog foto's hier: www.georgeherald.com/gallery.aspx
Dit is ongelooflik om te sien hóé die plekkie voor die restourasieproses gelyk en hoe die proses verloop het.
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR