GEORGE - Alhoewel sy puik loopbaan in die Suid-Afrikaanse Vloot hom gereeld vir lang tye op vreemde paaie gestuur het, het kommandeur Louis McCarthy sy gesinsbande baie hoog aangeslaan en onverwags op 39-jarige ouderdom sy laaste asem by hulle uitgeblaas.
Die Kerstafel was reeds gedek by sy ouerhuis en hy het self nog die kalkoen opgesny voordat hy moeg gevoel en vir ‘n rukkie langs sy slapende dogtertjie, Kellan, gaan skuinslê het. Kort daarna het die familie ‘n eienaardige gesnork oor die baba-monitor gehoor.
Toe hulle gaan ondersoek instel, het Louis reeds aan ‘n hartaanval gesterf.
Kommandeur Louis McCarty was die oudste seun van Wesley en Blanche McCarthy en het op George grootgeword, skoolgegaan en in 1988 by die SA Vloot aangesluit.
Hy het ‘n briljante loopbaan by die Vloot gehad wat deurtrek was van talle hoogtepunte.
Hy was bevelvoerder van die SAS Fleur, 'n torpedo-herwinningskip, opleidings-kommandeur by een van die Vloot se opleidingsentrums in Simonstad, SAS Simonsberg, bevelvoerder van die SAS Umhloti, 'n mynteenmaatreël-vaartuig, projekoffisier vir verskeie projekte - onder andere wapensisteemaanvaarding en -ana-lises.
Sy laaste aanstelling was by LEGSATO, 'n regssatellietkantoor by die kasteel in Kaapstad, waar hy verantwoordelik was vir Operasionele Regsadvies. Hy was in hier-die hoedanigheid ook nou betrokke by die Maritieme Reaksie Eskader wat baie na aan sy hart gelê het.
Sy akademiese kwalifikasies sluit NHD Maritieme Studies, LLB (fokus op SA Handelsreg) en LLM (Meesters in Maritieme Reg) in.
Louis was baie trots om lid te wees van The Society of Master Mariners of SA waarvoor lede genomineer word - hy was baie jonk om hierdie eer te ontvang.
Hy was tot sy dood besig met sy Meestersgraad in Maritieme- en Skeepsreg by die Universiteit van Kaapstad, en bekend as 'n deskundige in Maritieme Reg.
As sulks was hy veral betrokke in die rugsteun van die SANW se operasies en oefeninge ter voorbereiding vir die 2010 Wêreldbeker asook die regsimplikasies rondom gesamentlike oefeninge met buitelandse vlote tydens hul besoeke aan Suid-Afrikaanse waters.
‘n Dankdiens is in die NG Kerk Wynberg vir hom gehou.
Buiten sy eggenote, Susan, laat hy ook twee kinders, Louis (jnr) en Kellan agter asook sy ouers, twee broers, Gerald en Wesley, en ‘n getroude suster, Chelley.
Artikel: Jannie Meyer