Update
GEORGE NUUS - Drie van die vyf verdagtes wat vir die moord op die 21-jarige Breyton Botha aangekla word, is op Donderdag 5 Mei in die George-landdroshof op borgtog vrygelaat.
Faizel Flemmer, Jason Williams en Heinrich Jacobs, is al drie R300 borgtog toegestaan. Sou hulle dit nie kan betaal nie, bly hulle in aanhouding. Die ander twee verdagtes, albei minderjarig, is op Maandag 25 April ná hul eerste hofverskyning, in hul ouers se sorg vrygelaat.
Botha is Sondagoggend, 23 April, omstreeks 00:20 in Proteapark doodgesteek toe hy en 'n vriend glo van 'n taverne in Rosemoor op pad was huis toe.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, dui die voorlopige inligting daarop dat die oorledene en 'n vriend vanaf 'n taverne na hul woning op pad was toe 'n groep jongmans hulle aangerand en Botha vermoor het. Die mans het glo oor 'n sigaret baklei.
"Tydens die bakleiery het die verdagtes die oorledene verskeie kere met skerp voorwerpe gesteek. Hy het steekwonde in sy bors en rug opgedoen en weens sy beserings het hy in die ambulans op pad na die hospitaal beswyk," sê Pojie.
Vyf verdagtes tussen die ouderdomme van 15 en 22 is later dieselfde dag in hegtenis geneem.
Vorige artikel: Jongman vermoor in Proteapark
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'