GEORGE NUUS - Die polisie is steeds op soek na 'n verdagte in 'n tref-en-trap voorval ná 'n jong vrou van Conville, Senolene Koopman (27) Sondagoggend, 26 Mei, in Nelson Mandela-boulevard doodgery is. Die voorval het kort na 01:00 naby die Total-vulstasie plaasgevind.
Volgens 'n vriendin, Marizaan Stoffels, was Koopman op pad terug van die vulstasie se winkel af toe die motor haar in die middel van die pad tref. Sy is op die toneel dood verklaar.
Conville-polisie se stasiebevelvoerder, kol. AB Kriga, sê voorlopige inligting dui daarop dat die motor besig was om 'n trok verby te steek toe hy Koopman tref.
"Die trok, wat in die rigting van George gery het, wou uit Nelson Mandela-boulevard links in PW Botha-boulevard afdraai toe die motor van agter kom en die trok verbysteek. Die motor het Koopman getref en weggery," sê hy.
Enigiemand met inligting rondom die voorval word gevra om die Conville-polisiestasie by 044 803 3300 te skakel.
'n Huisdiens word volgende Saterdag, 8 Junie by Suikerbekkiestraat 6, Conville, gehou waarna 'n roudiens om 10:00 by die Hoekkerk sal plaasvind.
Sy word oorleef deur haar dogter, Sedrolene (7), haar seun, Faygon (1), haar lewensmaat Sedrick Mei en ouma, Elsie Davids.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'