GEORGE NUUS - Die krag van woorde lê 'n jong digter van Parkdene, Gabriel Swartbooi (28), na aan die hart. Sy eerste digbundel, When love meets heartbreak, het onlangs die lig gesien en diegene wat hom ken het gesorg dat hulle 'n kopie bekom.
"Ek was eintlik besig om aan 'n roman te werk en het nie myself as 'n digter geklassifiseer nie. Die gedigte het so tussenin deurgekom," het Gabriel verduidelik.
Sy bundel van ongeveer 140 gedigte is deur sy eie maatskappy, Eight Point Eighteen Publishers, gepubliseer en die drukwerk is in Kaapstad gedoen. Al sy skryfwerk verskyn onder sy skrywersnaam, Gabriel Christie - sy doopname minus sy van.
Om ander met woorde te motiveer is deel van wie Gabriel is. Hy word geken aan sy inskrywings op Instagram wat poog om mense beter oor die lewe te laat voel. "Maar, woorde het ook 'n ander rol om te speel," het Gabriel gesê.
"Digkuns is 'n spieël. Soms moet 'n mens eerlik wees. Jy moet in die spieël gaan kyk en 'n eerlike gesprek met jouself hê. Dis 'n terapeutiese proses. Al skryf jy net in 'n dagboek - skryf jou ervaringe neer."
Met die verbrokkeling van sy ouers se huwelik het Gabriel toevlug in skryf geneem. Hy het ook sy vriende se emosies en belewenis van die liefde ingedrink en dié gevoelens verwoord.
Sy gedigte is in Engels, want hy dink in Engels as hy skryf, het Gabriel gesê: "Die digbundel gaan oor die liefde, in al sy fasette. Ek het so baie van ander geleer."
Op 'n vraag oor sy ouers se reaksie, het Gabriel gesê beide sy ma en pa is baie trots op sy publikasie. Intussen werk hy reeds aan 'n volgende bundel oor sy lewe, Reflections.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'