GEORGE NUUS - 'n Motiveringspreker van Ceres, met 'n hart vir die jeug, is besig om sy vlerke in George te sprei.
Adrian Mankopan (39), 'n kinder-en-jeugsorgwerker, het groot planne vir 2022. Skoolkampe oor naweke en 'n geselsprogram wat fokus op sielkundige kwessies is beide op Adrian se doenlysie vir die komende jaar.
Maar dinge was nie altyd so rooskleurig vir hierdie dinamiese man nie. Daar was 'n tyd toe hy onder 'n boom in 'n begraafplaas moes slaap, toe hy mense geroof en belieg het, en saam met al die verkeerde tipes rondgehang het.
"Ek het altyd gewens ek is iemand anders. Ek was so 16 jaar oud toe ek een Kersfees onskuldig begin drink het. Die selfvertroue wat dit my gegee het, het veroorsaak dat ek my vir die volgende vyf jaar aan dwelms en drank vergryp het.
"Ek het op 17 skool gelos en voor ek my kon kry, slaap ek onder 'n boom," vertel Adrian. Hy het vir jare blomme in Ceres en Kaapstad gesmous, terwyl hy saam met 'n bekende bende besig was om te baklei en mense en winkels te roof. "Alles het gestop toe ek 21 word," sê Adrian.
"Ek het my werk as blommeverkoper verloor omdat ek gesteel het. Ek het nie geld gehad vir drank nie, maar na twee weke sonder drank het ek besef, ek het dit nie nodig nie. Ek het niks anders gehad om te doen nie, en het begin lees. Geestelike boeke, die Bybel, allerhande boeke.
Ek wou iets anders hê vir myself - ek wou nie meer aangaan soos ek geleef het nie.
En die interessante ding is, ek het toe begin werk by die winkels waar ek gesteel het. Die mense het my vertrou, en my gewys dat ek anders na myself moet begin kyk. Ek het myself deur hulle oë gesien. Hulle het my hanteer soos die persoon wat ek graag wil wees."
Adrian het deur Abet sy matriek geskryf, later verder studeer by Hugenote Kollege en begin om uit te blink as sosiale werker. Sy CV sluit in poste by Sassa, Statestiek SA en 'n kinder- en gesinsorgsentrum in Ladismith. Hy het ook as 'n EPWP-koördineerder vir die Witzenberg-munisipaliteit gewerk.
Nou wil hy graag terugploeg in die gemeenskap, hy wil leiding gee en mense se stories vertel. "As ek iemand gehad het met wie ek kon praat toe ek 'n kind was sou ek driekwart van my foute nie gemaak het nie," sê Adrian. "Mense gaan deur allerlei dramas. Dit is tyd dat ons besef, dis okay. Ander was ook al daar. Daar is hoop en dinge kan verander."
Volg Adrian op Facebook by Adrian Jacques Mankopan of sy Facebook-blad, Consultadrian.
Die boom in Ceres-begraafplaas waaronder Adrian dikwels geslaap het gedurende sy tyd op straat.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinorete nuus'