Jan se vrou, Dene was op daardie stadium swanger met hulle tweede kind.
Na bykans twee jaar lê die seer nog vlak en leef die Meyer-gesinne en Jan se vriende daagliks met ‘n groot gemis - maar, tog gebeur daar soms iets wat jou laat dink Jan het dalk net so vinnig vir almal hier onder oog geknip.
Jannie en sy vrou, Jolene was onlangs met vakansie in die Kaap, min wetende dat daar met hul terugkeer ‘n sonderlinge storie sou ontvou.
‘n Kunstenaar van Oudtshoorn, ‘n totale vreemdeling, het hulle gekontak met die nuus dat sy haar en Jan se storie met sy familie wil deel.
Annemarie se verhaal
Hier is die skilder, Annemarie Janse van Rensburg en ‘haar Jan’ se verhaal...
"Dit was ‘n reënerige dag, so Februarie, Maart, byna twee jaar gelede, toe ek van buite inkom en Jan op die grond sien lê op die trap by die werk. Sy gesig in die dagblad het my aandag getrek en ek het hom opgetel en ingevat. Ek was op daai oomblik besig en het eers later die doodsberig gelees.
Jan was net so oud soos my broer en dit het aan my hart gevat. Ek het dit aan my ma genoem en sy het gesê sy vermoed Jan se mense is by die George Herald.
Daardie aand het ek Jan saamgevat huis toe en in my sitkamer op die mat neergesit.
Vir die volgende paar dae het ek en Jan geverf en gesels. Ek het gewonder oor sy mense en spesifiek Jan se ma en of hy kinders het. Ek het gewonder of dit dalk vandag sy begrafnis was en so het ek en Jan ‘n pad begin stap.
Hy was my Jan, ek dink op hierdie wyse wou my siel ‘n manier vind om Jan te troos. Dis moeilik om te verduidelik, maar hy was deel van my daaglikse doen en late en saans as ek klaar geverf het vir die dag, dan het ek altyd die skoon gewaste kwaste langs hom op die koerant gesit en gesê, ‘Nag, Jan. Môre verf ons weer verder’.
Vir my was hy ‘n tipe inspirasie. Sy dood was vir my so tragies en het my harder laat werk, want hy sou ook wou, maar kon nie.
Een aand het ek by die huis gekom van die werk af en Jan was weg. My huishulp was daar en het skoongemaak. Dit was al donker, maar ek het Jan uit die buitenste drom gaan krap. My hele gesin het Jan ontmoet en moes my verseker Jan mag maar bly.
Só het ek vir twee weke geskilder saam met die Meyers se kosbare Jan. Deesdae het ek ‘n foto en die berig op my laptop en nou pas ek nie meer vir Jan so op nie, want anders sou dit dalk vreemd kon lyk!
‘n Tyd gelede het ek egter ‘n skildery aan die Smile Foundation geskenk en hulle sou een of ander tyd die skildery met die bedrag wat hulle gekry het in al die koerante van die omliggende dorpe publiseer.
Ek koop toe die koerant en sien die artikel oor die Group Editors-toekenningsaand. Toe ek Jannie Meyer sien het ek nie dadelik onthou wat Jan se van was nie en die oom het nie baie na my Jan gelyk nie, maar ek moes weet.
Ek het al die J Meyers in George gebel en uiteindelik kontak gemaak nadat ek toevallig vir Jan se suster, Mariska by Jannie se huis raakgebel het. Jannie en Jolene was steeds met vakansie.
Ons het kontak gemaak en ek gee Jan nou terug aan sy mense. Daarmee gee ek ook vir Jolene ‘n skilderytjie wat haar kan herinner aan haar kind.
Hoop hierdie ware ‘storie’ beteken vir die familie iets en dat Jan se kinders dit nog vir baie mense eendag kan vertel."
Ontmoeting met die Meyers
Jannie en Jolene is verlede Donderdag na Oudtshoorn om Annamarie te ontmoet en persoonlik haar storie te hoor. Sy het ‘n skildery wat sy spesifiek vir Jan geskilder het aan hulle gegee en Jannie sê hulle het onmiddellik gekliek. "Ek was aanvanklik bang sy is dalk ‘n bietjie vreemd, maar sy is ‘n regte mense-mens. Die feit dat Jan se foto haar so geraak het is iets waaroor ‘n mens altyd in verwondering sal staan. Die skildery is vol simboliek en het ‘n ereplekkie in ons huis."
.jpg)
Annamarie Janse van Rensburg (middel) saam met Jannie Meyer en sy vrou Jolene. Die drie sipresse simboliseer die drie kruise op Golgota, terwyl die hekkie langs die huis wat in die helder lig oopmaak, daarop dui dat Jan reeds deur die hemelse poorte is.
ARTIKEL: ILSE SCHOONRAAD