Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Jy sal ver soek om iemand soos Janine Heathcote te kry wat haar werk met soveel passie aanpak.
Sy is al vir meer as 25 jaar 'n werknemer van Sanca George en verlede Vrydag, 24 Maart, is erkenning aan haar gegee vir haar lang loopbaanpad wat as inspirasie vir baie dien.
Sy kom oorspronklik van die destydse Port Elizabeth. Haar ouers het later hierheen verhuis en sy was onder meer 'n leerling van Heidedal Primêr.
In Februarie 1997 het sy by Sanca George in 'n administratiewe hoedanigheid begin werk. Later het sy haar as maatskaplike hulpwerker bekwaam deur met afstandsonderrig verder te studeer.
Haar werk behels meestal groepsessies en sy geniet elke oomblik van haar werk. Sy sal dit vir niks anders verruil nie. Haar werk lê haar baie na aan die hart en sy raak nog elke keer hartseer wanneer sy sake doen waar sy sien die pa's is afwesig by die opvoeding van hul tieners, veral seuns. Dit raak ook klein kinders en die probleem word groter. "Dis hartverskeurend."
Volgens haar besef pa's nie altyd die belangrike rol wat hulle in die lewens van hul kinders speel nie en ook nie wat hul afwesigheid tot gevolg het nie. Dit skep 'n ongeordende samelewing en 'n bose kringloop.
VIDEO: 25 jaar diens by Sanca
Sy geniet dit om met mense te werk en sal dit die res van haar lewe wil doen.
Haar advies aan jongmense is dat al is hul omstandighede hoe erg, kan hulle bo hul omstandighede uitstyg. Hulle kan iets maak van hul lewens.
Dr. Louis Peterson, voorsitter van Sanca George, het sy dank teenoor Heathcote uitgespreek vir haar werk. Dis werklik 'n prestasie dat iemand so lank by 'n nie-regeringsorganisasie werk.
Hy het gesê sy het oor die jare gefokus op dienslewering en haar bekwaam om meer van diens te kan wees.
Dr. Louis Peterson, voorsitter van Sanca George oorhandig 'n blyk van erkenning aan Janine Heathcote.
Dr. Louis Peterson, voorsitter van Sanca George oorhandig 'n geskenk aan Janine Heathcote.
Janine Heathcote saam met kollegas en belanghebbendes tydens Vrydag se geleentheid.
Die geleentheid Vrydag waar erkenning gegee is vir die diens van Janine Heathcote. Foto's: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’