Gallery
GEORGE NUUS - Grondbesetting is die volgende stap vir New Dawn Parkers in hul desperate stryd om behuising. Sedert inwoners van dié woongebied daarin geslaag om owerhede se aandag te trek toe hulle twee weke gelede motorbande in Proteastraat gebrand het, het dinge verder uitgekring.
Tans woon drie huisgesinne in hout plakkershutte op 'n stuk grond (tussen Houtkapper- en Proteastraat) langs New Dawn Park Primêr, nadat inwoners verlede Vrydagnag die grond beset het.
Dit volg ná vergaderings met amptenare en raadslede van George-munisipaliteit nie na die inwoners se wense verloop het nie.
Inwoners reken daar is geen planne om hul nood te verlig nie. 'n Tekort aan behuising en probleme met riolering is van hul dringendste kwessies.
'n Groep oproeriges het sedert Sondag (3 Februarie) die geleentheid gebruik om amok te maak in die woonbuurt. Die polisie se eenheid vir openbare geweld, die anti-grondbesettingseenheid, munisipale beamptes van wetstoepassing en George-verkeer moes bontstaan terwyl motorbande in Proteastraat kort-kort aan die brand gesteek is. Van die inwoners wat aan die gewelddadige betogings deelgeneem het, was besope en aggressief. Hierdie aksie dra egter nie die wyk se gemeenskapsleiers se goedkeuring weg nie.
Raadslid Theresa Fortuin, Icosa-raadslid van die Garden Route-distriksmunisipaliteit, het die brand van bande veroordeel. Haar hulp is Sondag ingeroep om die groep oproeriges onder beheer te bring. Sy het dit op rekord gestel dat sy niks te doen gehad het met die oprig van die plakkershutte nie. "Hierdie is die mense se eie inisiatief," het sy gesê.
Gemeenskapsleier Dalene Valentine, het gesê hulle het besluit om die hutte op te rig omdat dit duidelik is die owerheid het geen planne vir New Dawn Park nie.
"Ons soek die mayor"
Teen Maandagmiddag het die betoging in Proteastraat 'n hoogtepunt bereik. Toe dit duidelik word dat burgemeester Melvin Naik nie die toneel gaan besoek en hul daar toespreek, soos hul wens was nie, het 'n groep afgevaardigdes onder begeleiding van munisipale amptenare en verkeersbeamptes, in voertuie na George-munisipaliteit gery.
Naik was egter uitstedig en kon nie die groep toespreek nie. Stanley Laminie, leier van die Pacaltsdorp Khoi-Khoi-raad, was deel van die groep wat Naik wou spreek. Laminie het die gebrek in kommunikasie tussen amptenary, politici en die gemeenskap veroordeel.
Onderburgemeester Charlotte Clarke, die munisipale bestuurder, Trevor Botha, direkteur van siviele ingenieurswese, Reggie Wesso, Henry Jansen van siviel en die direkteur van behuising, Charles Lubbe, het die vergadering bygewoon.
Na 'n vergadering van bykans 80 minute het Botha onderneem om nie onmiddellik 'n hofbevel te bekom vir die uitsetting van drie gesinne wat tans die stuk grond in New Dawn Park beset nie.
Volgens die belangegroep is daar verder deur die munisipaliteit onderneem om aansoek by provinsie te doen om die grond, wat blykbaar aan die provinsiale regering behoort, aan die munisipaliteit oor te dra. "Dit beteken hulle kan dan die proses begin om aansoek te doen vir die ontwikkeling van die grond," het Dalene Valentine gesê.
Rioolhooflynpype 'te dun'
Op 'n vraag aan die munisipaliteit of daar in die begroting van die huidige of volgende finansiële jaar voorsiening gemaak is vir infrastruktuur soos riolering in New Dawn Park, het Wesso gesê daar is nie spesifiek begroot vir die opgradering van riool verwante infrastruktuur vir dié wyk nie, aangesien die omvang daarvan uiteenlopend is en in baie ander woonareas in George voorkom.Die komitee van wyk 16 wat deur die gemeenskap verkies is (en nie deur die raadslid nie), verkeer in 'n goeie luim verlede Sondag by die grond waar drie plakkershutte onwettig opgerig is. Voor, van links: Sarah Booysen, Marileza Stuurman, Mina Yazo, Shamila Folding en Eluandré Esau. Agter: Nathan Mintoor, Dalene Valentine, Terence Arends, Chris Sambo en Elandré Lamini. Foto: Michelle Pienaar
Direkteur van Siviele Ingenieurswese, Reggie Wesso:
Die minimum rioolhooflyn grote is 160 mm in diameter en vir onverklaarbare redes was groot dele van George in die verlede voorsien van 110 mm diameter rioolhooflyne, wat gevolglik baie vinnig verstop met die geringste soliede voorwerpe wat daarin beland. Die totale omvang van sulke 110 mm diameter pype is meer is 121 km pype wat vervang sal moet word oor groot dele van die munisipale gebied en derhalwe nie moontlik is oor die korte duur nie.
Vervolgens word beplan dat daar voorsiening gemaak word in die 2019/20 begroting om "in-lyn meganiese versnippers" aan te bring om soliede voorwerpe fyn te maal en sodoende die moontlikheid van verstoppings te voorkom. ‘n Verder bydraende faktor is dat selfs 160 mm hooflyne onvoldoende raak tydens hoë reënval periodes weens stormwater indringing.
In hierdie gevalle word sake vererger deur onwettige koppeling van reënwatergeute se afvoerpype wat die rioolstelsel oorweldig en manifesteer in rioolmangate wat oorloop, of terugstoot in huise.
Wat sal so iets kos?
Om die netwerk van 110 mm diameter pype te vervang gaan gemiddeld R2 000 tot R2 500 per lopende meter kos en dus ‘n totale beraamde koste oor die hele George van tot R303-miljoen teweegbring. Die "in-lyn meganiese versnippers" is dus by verre die mees ekonomiese haalbare opsie op dié stadium. Navorsing op die gebied van rioolvoorsiening toon dat die tradisionele manier van riooldienste voorsiening, wat opsigself maar minder is 100 jaar oud is (in die geval van George), oor die afsienbare toekoms drasties kan verander en die verstopping van netwerke, iets van die verlede maak.
Polisie en brandweer op die toneel in Proteastraat, waar inwoners Maandagmiddag motorbande aan die brand gesteek het.
Lees vorige artikels:
- Opvolg: New Dawn Park-protesaksie
- Hofbevel op ys
- Belangegroep en amptenare koukus
- Belangegroep vra opstokers om te bedaar
- Onderburgemeester vergader met belangegroep
- Opvolg: Protesaksie in New Dawn Park
- Protesaksie in New Dawn Park
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'