Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - As deel van vieringe vir Internasionale mond- en voetskildersdag het Patrick Botto Dinsdag 5 September hoenders by die George-museum geskilder.
Botto is een van Suid-Afrika se bekendste mondskilders en 'n lid van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Mond- en Voetskilders.
Hy was Dinsdagoggend druk besig om te skilder. Die dag word jaarliks gehou om bewusmaking te skep oor hierdie unieke manier van kuns, maar ook om die kunstenaars aan die wêreld bekend te stel.
Nie net in George nie, maar reg oor die wêreld het mond en voetskilders Dinsdag demonstrasies gehou van hulle unieke manier van skilder. Daar is ongeveer 850 kunstenaars wêreldwyd wat behoort aan die Vereniging van Mond- en Voetskilders, waarvan sowat 27 in Suid-Afrika is.
Kort voor Dinsdag het Patrick die finale afronding van sy proteaskildery gedoen. Dit was 'n lang gekoesterde ideaal om Suid-Afrika se nasionale blom te skilder.
Dis 'n lang pad wat hy geloop voordat hy begin skilder het. Op 12 November 1993 het sy lewe vir altyd verander. Hy was in 'n motorongeluk betrokke en het sy nek gebreek. Later het hy met sy mond begin skilder.
Sarah en Trevor Marillac kyk Dinsdag hoe Patrick Botto hoenders skilder by die George-museum. Foto: Eugene Gunning
Botto het gesê dis die eerste keer dat hy hoenders, proteas en 'n Nguni-bul skilder. "Ek is dankbaar en hou van die uitdaging. Dit sal nog sowat 'n week en 'n half tot twee weke neem om die hoenderskildery te voltooi."
Op die vraag of dit moeilik is om so met 'n mens se mond te skilder, het hy gesê dis vergelykbaar met twee dinge.
"As mens klein is moet 'n mens leer skryf. Dan is dit mos maar moeilik. So ook vir mense wat 'n voertuig leer bestuur. Aan die begin is dit maar moeilik, maar later raak mens daaraan gewoond. Dit is hoe jy dit toepas.
"Jy kan al jare 'n lisensie hê, maar steeds ongelukke maak. Met ons is dit dieselfde. As mens aanhou en probeer, raak dit beter. Ek probeer om myself bietjie te druk. Elke skildery wat ek maak probeer ek beter doen as die vorige een."
VIDEO - Patrick Botto van die Mond en Voetskildersvereniging besig om hoenders te skilder by die George-museum. Dit was deel van vieringe van Internasionale Mond en Voetskilderdag.
Video: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’