TUINROETE NUUS - Dit lyk of twee van die grootste brandbestrydingsinstansies in die gebied, die George-munisipaliteit en die Garden Route-distriksmunisipaliteit wel lesse geleer het uit die brande wat in Oktober/November 2018 plaasgevind het en gereed is as iets soortgelyks weer sou plaasvind.
Die eerste van die verwoestende brande het vandag, 24 Oktober, presies 'n jaar gelede uitgebreek en vrae word gevra of lesse daaruit geleer is.
George-brandweerhoof, Neels Barnard, het by navraag benadruk hy praat net uit die oogpunt van die George-munisipaliteit.
Die George-munisipaliteit se brandbane bo residensiële gebiede was in plek en voorkomende blokvoorbrande was reeds besig om gevestig te word toe die brande in Oktober 2018 uitgebreek het.
Beide het 'n baie suksesvolle rol gespeel in die bestuur van die brande en die beskerming van die noordelike residensiële gebiede.
Die brande was wel 'n goeie 'wakkerskrikoomblik' vir die munisipaliteit, provinsie en nasionale regering, veral met betrekking tot brandbestuur en beskerming van eiendom in afgeleë gebiede, moeilik bereikbare plekke en in droë gebiede soos die semi-woestyngebiede noord van die Outeniquaberge.
Heelwat finansiering vir nuwe toerusting is in die afgelope finansiële jaar beskikbaar gemaak en die munisipaliteit se nuwe 35 000 liter watertenk en beweegbare, opslaanbare opgaardam (14 000 liter) sal hierdie kwessie in die toekoms beter hanteer. Daar word ook tans 'n beter bossiekapper-trekker aangekoop om brandbane makliker en vinniger te verbreed.
Die George-munisipaliteit het gedurende die afgelope paar maande 'n breedvoerige brandrisiko-assessering gedoen, en hoë brandrisikogebiede is geïdentifiseer.
Daar word ook aan 'n indringer-plantbeheerplan op munisipale grond gewerk en finansieringsmoontlikhede word ondersoek in die hoop om sou gou moontlik aandag te gee aan veral hoë risikogebiede.
Die Outeniquaberge buite George tydens die brand in Oktober verlede jaar.
Foto: Eugene Gunning
Ofskoon verlede jaar se brande in terme van hektaar-omvang baie groot was, was baie daarvan in gebiede waar dit brandstoflading verminder het, uitheemse bos vernietig het en fynbos gestimuleer het.
Dit beteken dat die brandrisiko vir die onmiddellike toekoms en vir hierdie brandseisoen heelwat laer gaan wees in die gebiede wat verlede jaar gebrand het.
Barnard het 'n beroep gedoen op almal wat in die gebied bly, werk en besoek aflê om te alle tye baie versigtig te wees; om vure slegs in beskutte en aangewysde areas te maak; en om veilig van sigaretstompies ontslae te raak.
'n Woordvoerder van die Garden Route-distriksmunisipaliteit het gesê na afloop van die 2017 Knysna/Bitou asook die 2018 George/Karatara brande, is daar onder leiding van die distriksmunisipaliteit 'n breedvoerige brandrisiko-assessering gedoen om die oorblywende hoë brandrisikogebiede in die distrik te identifiseer.
In 'n poging om regerings asook nie-regeringsorganisasies se pro- sowel as reaktiewe maatreëls en aksies beter te koördineer, is die Garden Route Environmental Forum (GREF) gestig. Die GREF is getaak om, met behulp van satellietbeelde, die huidige indringerplante in die Garden Route-distrik te karteer, asook om prioriteitareas vir onmiddellike intervensies uit te lig.
Ten einde momentum in terme van pro-aktiewe brandvoorkomingsaksies asook die uitroei van indringerplante te behou, word daar op 5 November 'n werksessie met alle staatsdepartemente en verskeie belangegroepe gehou om te fokus op die beheer van indringerplante, die maak van brandbane en die uitvoer van blokbrande.
Die distriksmunisipaliteit se kapasiteit gaan vergroot word vir die brandseisoen met 'n aanvulling van brandbestryders en twee nuwe brandweertrokke van 6 000 liter elk en 'n 4x4 bakkie is aangeskaf om brandbestryding te verbeter.
Lees 'n verwante artikel: Enviro damage of fires difficult to quantify
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'