Rachel Williams, hoofbibliotekaris, het gesê al die biblioteke in en rondom George lewer ‘n noodsaaklike en opbouende diens aan die gemeenskap, maar die diens aan die mense word konstant deur inbrake onderbreek.
“Die gemeenskap trek aan die kortste end, want hulle word gereeld weggewys. Die biblioteek het by tye al ure lank of selfs dae lank gesluit weens die omstandighede. Studente wat graag in ‘n rustige atmosfeer hul navorsing of tuiswerk wil doen, is gestrand gelos gedurende hierdie tydperke. Werklose mense en werksoekers is veral afhanklik van die internetdiens by die biblioteek asook die verskeie koerante wat by die biblioteek beskikbaar gemaak word.”
Williams het gesê dit is baie jammer om te sien dat ‘n gemeenskapsmiddelpunt wat gebruik word vir gemeenskapsontwikkeling, inligting, ontspanning en onderrig, deur diewe geteiken word.
George-munisipaliteit het reeds in Februarie 2014 ‘n veldtog teen vandalisme begin en het die publiek se hulp nodig om enige vandalisme onmiddellik aan te meld.
Die munisipaliteit onderneem om ‘n beloning van R2 500 te betaal aan enige persoon wat inligting verskaf oor die vandalisering en of diefstal van munisipale bates en waarvan die inligting tot die suksesvolle skuldigbevinding van ‘n beskuldigde in ‘n hof lei.
CCTV kameras is op strategiese plekke regoor die stad aangebring en wetstoepassers is ook gedurig op die uitkyk vir vandale.